web uni tv guide
Klein Paradys S1 Slim BB Duos

"Klein paradys" se Mika en Jannie is verloof!

Nuus
06 Desember 2024
Baie geluk aan dié pragtige paartjie!
Mika en Jannie Klein Paradys verlowing

Dit het twee maande se beplanning geneem, maar dit was alles die moeite werd. Klein paradys se Jannie van den Heever en Mika de Villiers – ook bekend as die jong verliefdes – het Donderdagaand op die strand by Bloubergstrand verloof geraak ná Jannie goed moes konkel om dit vir haar ’n verrassing te hou.

“Ons het ontmoet toe ons in dieselfde gebou gewerk het. Dit het hom ’n rukkie geneem om my uit te vra vir koffie, maar daarna het ons net geweet ons is vir mekaar bedoel,” sê die 24-jarige Mika.

Hulle verhouding was nog in sy begindae toe daar begin soek is na deelnemers vir Klein paradys, kykNET se realiteitsreeks waar ses spanne teen mekaar meeding om ’n mikro-eenheid in te rig. Op die koop toe is daar R1 miljoen op die spel. Kykers van die program sal egter weet dat dit nie maanskyn en rose is nie, maar vir Jannie en Mika was dit ’n goeie manier om mekaar beter te leer ken.

“Die 25 dae op so ’n produksie kan ’n span of verhouding maak of breek, maar in ons geval het dit ons gemaak,” sê Mika. “Ons het mekaar se hoogtepunte en laagtepunte gesien en gesien hoe alle emosies hanteer word. Dit was ’n baie goeie leerskool.”

Jannie (37) het al vir Mika geneem om verloofringe aan te pas net om te sien waarvan sy hou, maar die uiteindelike ontwerp asook die beplanning van die groot vraag het hy alles op homself geneem. ’n Fotograaf saam met wie Mika al voorheen gewerk het – sy professionele naam is Jashlin M – het haar gekontak en gesê hy het ’n paartjie nodig vir foto’s en sal sy en Jannie nie asseblief dit vir hom doen nie. Hulle is gevra om swart te dra en vir Jashlin se foto’s posseer. Maar dit was met een omdraaislag dat Mika gesien het Jannie staan nie agter haar nie, maar is op een knie met die ring in sy hand.

“Dit was vir my belangrik dat Mika van die ring hou en die mense by Grand Diamonds was wonderlik. Ek het ’n idee gehad van hoe dit moet lyk en hulle het dit verder geneem,” sê Jannie.

Van hulle vriende en familie - insluitend haar ouers vir wie sy heel eerste van die verlowing wou vertel - het hulle ná die tyd by ’n eetplek gekry waar daar verder gevier is.

Mika en Jannie sê daar is nog nie ’n troudatum nie, maar dat dit beslis volgende jaar sal wees.