In die reeks vertolk hy die karakter van Genie Matthews, ’n charismatiese vermaaklikheidskunstenaar wat lank op skepe gewerk het, en met sy avontuurlike lewenstyl en sjarmante persoonlikheid vinnig van die ander karakters beïnvloed.
Genie Matthews is ’n ou wat maklik met mense oor die weg kom en wat beskermend optree teenoor sy vriende, veral Lilly en Amber Louw, wat hy op die skepe ontmoet het. Sy onverwagte verskyning, het almal behoorlik op hol gehad.
Jandré beskryf Genie as “vriendelik, sjarmant, behulpsaam en vermaaklik” en sê dat sy benadering tot die karakter grootliks gebaseer is op die idee om pret te hê met die rol, terwyl hy steeds ’n oortuigende vertolking lewer.
Jandré het aktief op die rol voorberei deur, onder meer, die subteks te analiseer en sy dialoog en liggaamstaal te oefen om ’n unieke interpretasie van Genie te skep. “In terme van dialoog: As gevolg van die vinnige skietformaat in ’n telenovela het ek seker gemaak ek ken my karakter se woorde sodat dit tweede natuur vir my is op stel wanneer die druk daar is en die kameras rol. Daarvoor het ek ook die ander karakters se dialoog vir myself opgeneem en teruggespeel om die ritme van die spesifieke tonele te verstaan. Dit help my gewoonlik baie,” vertel hy.
Hy het ook aan die fisieke vereistes van die karakter gewerk deur oefening en die volg van ’n dieet om in ’n toestand te wees wat die karakter se selfbeeld en energieke aard ondersteun.
“Ek en Genie is dieselfde in terme van ons slag met mense. Ons kan met enige iemand ’n verhouding bou, en ons het albei ’n tipe sjarme. Ons hou daarvan om in ’n redelike goeie fisieke toestand te wees, speel albei kitaar en sing en skryf so nou en dan ’n liedjie,” sê hy.
En hoe verskil Jandré van Genie? “Ek dink Genie is so bietjie meer arrogant as Jandré.”
Maar hy hou van Genie. “Ek’s mal oor hom en het dit ook menigmale vir van die ander akteurs gesê. Genie is een van die lekkerste karakters wat ek nog gespeel het. Hy ‘sit’ net lekker by my, en op ’n manier connect ek met hom en verstaan hom. Ek kan regtig pret hê met dié karakter,” sê hy.
Die uitdagendste deel van dié rol vir Jandré is om dit so eg as moontlik te vertolk. “Ek moes myself vertrou dat ek genoeg gegee het om aan die karakter reg te laat geskied en hom lewe te gee op die manier wat ek, die skrywers, vervaardigers en regisseurs hom voorgestel het. Dit was ook moeilik om in karakter te bly en myself nie te vergaap aan my medespelers se absolute puik toneelspel nie. Almal gee hul uiterste bes en is ongelooflik.”
Jandré het al aan verskeie groot produksies gewerk. “Sjoe, ek’s bevoorreg om al aan ’n hele paar amazing projekte te gewerk het, waaronder ’n paar internasionale rolprente en TV-reekse. Van die bekendstes was Transformers: The Last Knight, Tomb Raider, One Piece, in amper volle prostetika, en een van die hoofrolle in Ludik saam met Arnold Vosloo op Netflix. Ek was ook die hoofrolspeler in ’n onlangse film vir Showmax, Gebokste liefde, en vele meer.”
Jandré maak op 24 Junie sy eerste buiging in Skemergrond, en die spanning loop hoog wanneer Ruan vir Genie ontmoet.
- Skemergrond is Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.