web uni tv guide
web uni tv guide

Niggies

144Drama16

Hoogtepunte in Mei op die kykNET-kanale

Nuus
30 April 2025
Die tweede seisoen van "Die brug" begin, ’n nuwe dramareeks is op pad, en ons loop verder op die spore van die fassinerende geskiedenis van Afrikaans. Dit is maar net ’n paar van die hoogtepunte in Mei op kykNET se kanale.
Mei hoogtepunte article image

kykNET

Die brug
’n Splinternuwe groep spelers in die skadu van die Outeniekwaberge en twee keer meer drama. Dít word alles belowe in die lokprent van die tweede seisoen van Die brug – die avontuur-realiteitsreeks wat spelers fisies en geestelik uitdaag tot een uiteindelik as die wenner aangewys word.

Die eerste seisoen was ’n treffer by kykers en is ook vir ’n internasionale Emmy-toekenning benoem, ’n reusepluimpie vir almal betrokke. In Die brug moet spelers saamwerk om ’n brug te bou om by die skat – ’n stewige R1 miljoen – uit te kom, maar dié reeks het meer kinkels as ’n bol staalwol. Nes die spelers én die kykers dink hulle weet wat kom, besluit die mense wat die toue agter die skerms trek: Wag net so ’n bietjie ... Neil Sandilands is weer die verteller.

Die tweede seisoen van Die brug begin op Donderdag 8 Mei om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.

Niggies

6 Mei

’n Informant na aan die saak word vermoor. André se gesin is steeds in gevaar, en André gaan self as “gevangene” in die tronk in om ’n bekentenis uit ’n verdagte te kry.

13 Mei

Die gevangenes is agterdogtig oor André se teenwoordigheid, en sy lewe is in gevaar. André wen die verdagte se vertroue, wat erken dat hy destyds by die niggies se verkragting en moorde betrokke was.

20 Mei

Uiteindelik word die raaisel oor wat destyds met die niggies gebeur het, opgelos. Die verdagte word gearresteer en skuldig bevind. André word herenig met sy gesin en groter familie.

Niggies is op Dinsdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.

 

Die nuusmakers

Adri Joubert was vir twee dekades die koel, kalm, gerusstellende gesig en stem van die aandnuus. Maar dan word haar man vermoor, en haar lewe word nuus terwyl ’n nasionale krisis die land skud. Sy word gedwing om haar persoonlike trauma opsy te skuif om die kykers deur die noodtoestand te loods van agter ’n vuurwarm nuuslessenaar.

kykNET se nuwe dramareeks, Die nuusmakers, met Rolanda Marais (as die gesoute nuusleser Adri Joubert), Brendon Daniels, Roeline Daneel, Lea Viviers, Arno Greeff, Leslie Maasdorp, Hannah Borthwick, Chris van Rensburg, Chris van Niekerk, Ira Blackenberg, Susanne Beyers, Dorette Potgieter en Melissa de Vries, ondersoek die persoonlike opofferinge wat dit verg om nuus aan die nasie te bring. Die reeks begin op 27 Mei om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). 

Dit verg ’n span talentvolle, onverskrokke mense om nuuskykers elke aand ingelig te hou. Die nuusmakers verken sowel die kuns van nuusjoernalistiek as die persoonlike stryd, ambisies, oorwinnings en uitdagings wat die mense agter die skerms in die gesig staar terwyl hulle die waarheid najaag en tegelyk hul eie komplekse lewens moet hanteer. Die verhaal speel af in Johannesburg. 

“Waar ’n program soos Niggies ’n tragiese gebeurtenis met tyd en afstand kon dokumenteer, bied Die nuusmakers ’n blik op die ongelooflike spoed waarteen nuus breek en verpak moet word – en die tol wat dit eis van diegene wat vooraan staan in elke vreugde, frustrasie en hartseer wat die land ervaar, terwyl hulle self ook hierdie gebeure moet verwerk,” sê Waldimar Pelser, M-Net-direkteur van Premium-kanale. 

Die nuusmakers word vervaardig deur Both Worlds (die span agter M-Net se Recipes for Love & Murder), onder leiding van Karen Jeynes en Thierry Cassuto. Jeynes skryf en regisseer ook en is saam met Marvin Lee Beukes agter die kamera. Jozua Malherbe, Ludwig Binge, Kabous Meiring en Hélène Truter dra met hul skryfwerk by tot hierdie kragtige drama. 

“In ’n era van fopnuus en diepvervalsings, vra Die nuusmakers wie ons vertrou – en waarom. Adri Joubert verteenwoordig ’n generasie nuuslesers wat soos familielede in Suid-Afrikaanse huise geword het, en haar reis weerspieël ons gesamentlike stryd om by veranderende werklikhede aan te pas,” verduidelik Karen Jeynes. 

“Die nuuskamer is die ideale omgewing vir ’n drama – hoë druk, onmoontlike sperdatums en kleurryke karakters wat almal dieselfde doel nastreef, maar dikwels met botsende metodes werk. Voeg daarby Adri se persoonlike tragedie, en jy het ’n emosionele kruitvat waarbinne die storie afspeel,” sê Cassuto. 

Die res van die rolverdeling sluit in Heinrich Wentzel, Loren Loubser, Nahum Hughes, Martelize Kolver, Neels van Jaarsveld, Laudo Liebenberg en Kristen Raath. 

Die Nuusmakers begin op Dinsdag 27 Mei om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.

Op skou

kykNET het die vermoë om telkemale met ’n unieke dokumentêre realiteits-TV-reeks vorendag te kom wat mense laat gons. En dat mense oor Op skou gaan praat, is nie altemit nie.

Die naam sê presies waaroor die reeks gaan, maar daar word nie gekyk na plattelandse landbouskoue of die enorme stedelike skoue waar daar alles van paddas tot perde te sien is nie. Hier gaan dit oor skoue met ’n spesifieke fokus.

Ingrid Engelbrecht, een van die vervaardigers van Op skou, is baie opgewonde om hierdie reeks die lig te laat sien wat om buitengewone skoue en stokperdjies draai.

“Ons ontmoet doodgewone mense met ongewone stokperdjies en passies, en vind uit wat hulle harte vinniger laat klop. Elke episode het ’n ander tema: van honde en karre tot dans en skoonheid – daar is iets vir almal. Op skou volg verskillende mense in hulle voorbereiding vir ’n skou of kompetisie en wys ook hulle deelname daaraan,” vertel sy.

Die reeks bestaan uit agt episodes, en elke episode is propvol unieke inhoud.

Op skou is van Woensdag 7 Mei om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.

Die stories van Afrikaans

Die nuwe dokumentêre reeks Die stories van Afrikaans vier en verken die taal se merkwaardige geskiedenis deur die loop van agt episodes. Met ryk argiefmateriaal en meer as ’n 100 gesaghebbende stemme sny dié reeks die spore van die fassinerende ware verhale van die karakters, botsings, liefdes en langpaaie wat die taal deur vier eeue gebrei het en aan die Afrika-grond bind – van die smeltkroes aan die Kaap waar drie kontinente ontmoet het tot in die onstuimige hede waar daar ewe veel opgewondenheid as kommer rondom die taal is.

Elke episode het ’n eie verteller, wat bestaan uit agt ikoniese akteurs en stemkunstenaars: Sandra Prinsloo, Zane Meas, June van Merch, Albert Pretorius, Dean Balie, Frank Opperman, Lee-Ann van Rooi en Tinarie van Wyk Loots.

4 Mei

Episode 2 (1700-1860): Afrikaans trek en versprei saam met die Khoi, Voortrekkers en gevreesde roofbendes. Die taal word ook die eerste keer geskryf in Arabiese letters. Zane Meas is die verteller.

11 Mei

Episode 3 (1860-1905): Die eerste Afrikaanse onderwyskollege, koerante, taalbewegings en ’n bloedige oorlog wat die hele land Engels wil maak. Albert Pretorius is die verteller.

18 Mei

Episode 4 (1905-1925): Die media blom en skep talle nuwe woorde. Die eerste AWS verskyn, en Afrikaans word ’n amptelike taal, maar taalgenote van kleur word uitgesluit. Dean Balie is die verteller.

25 Mei

Episode 5 (1930’s-1960’s): Die eerste Afrikaanse Bybel, FAK-sangbundel, die begin van Afrikaanse radio, die koms van apartheid en die stroomop-Sestigers baklei terug. June van Merch is die verteller. 

Die stories van Afrikaans word Sondae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.

Mince jou hare

Frieda (Melissa de Vries) bedank by die fabriek waar sy werk en begin ’n haarsalon vanuit haar huis.

Hierdie goedvoel-sitkom is geskryf deur die bekroonde komediant Shimmy Isaacs. In die rolverdeling is Bianca Flanders, Lee-Ann van Rooi, Keenan Arrison, Euodia Samson, Gershwin Mias en Emile Smit. Die regisseur is David Isaacs, en die temaliedjie is deur Early B.

5 Mei

’n Onbeplande munisipale inspeksie kan ’n stokkie steek voor Frieda se planne om haar eie huisbesigheid te begin.

12 Mei

Antie Bets het ’n krisis: Jody wil weet hoe haar ouers ontmoet het. Vincent maak vir Julia seer.

19 Mei

Frieda is bekommerd dat sy en Vincent nie meer romanties is nie. Julia en Bertie word deur mekaar gekatvis, en Jody kry ’n nuwe sakrekenaar.

26 Mei

Frieda bestuur vrou-alleen die salon om ’n punt aan Suzette en haarself te bewys, terwyl Jody ontdek sy het gevoelens vir Jared.

Mince jou hare is Maandagaande om 21:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook op DStv Stream beskikbaar.

Richard the Stork 2

Richard, die waaghalsige mossie wat deur ’n ooievaarsfamilie aangeneem is, keer terug vir nog ’n avontuur. Dié keer pak hy ’n solovlug aan wanneer hy hoor dat hy nie sy swerm se leier is nie. Hierdie Afrikaanse oorklanking van die prettige fliek is perfekte Saterdagaandvermaak vir die hele gesin.

Richard the Stork 2 is op 3 Mei om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

Sepies

Binnelanders
Weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)

Joe en Fiona besluit dit is nodig dat Binneland die belangrikheid van roetinetoetsing van pasgeborenes vir verskillende genetiese siektes in ag neem, en die planne wat hulle aan die raad voorlê, is baie suksesvol. Hulle besef in die proses hulle is verlief. Conrad se sjarmante persoonlikheid het die verkeerde uitwerking op Cecile, met verwoestende gevolge. Wanneer Uys nuwe inligting oor sy pa se ondersoek ontdek, is hy onseker wat om daarvan te maak. Tracy besluit Ella is oorwerk en dat haar sosiale lewe ’n hupstoot nodig het.

Rudolf is terug in Pretoria, en Binneland-aandele lei tot groot probleme in Conrad en Delia se verhouding. Ongevalle se rekenaarstelsel word deur kuberkrakers aangeval en laat Binneland in groot gevaar beland. Uys en Nicolette se vriendskap word getoets, en ’n kollega moedig Delia aan om ’n onmoontlike besluit te neem wanneer ’n pasiënt sterf.

Suidooster
Weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)

Carlo moet die gevolge van sy dade dra. Die polisie verwag ook dat hy verantwoording moet doen, wat natuurlik vir Nazeem op hete kole het. ’n Belangrike besluit word dan oor Carlo se toekoms geneem. Bianca kom tot ’n groot besef en besluit om haar lewe terug in haar eie hande te neem. Siya bied aan om Bianca met haar nuwe verslawing by te staan en om in die proses ’n nuwe bladsy oor te slaan.

Kate plant ’n saadjie by Riaan oor sy verlede met Bianca, maar hy is vasbeslote dat hulle tydjie in die son verby is. Boonop is ’n verhouding die laaste ding waarvoor Bianca nou sal kans sien. Oorlog bars los by Pronk tussen Elane en Amore, en dit neem ’n lelike wending wat niks goeds vir Elana voorspel nie. Dit lyk of Bridgette se ouderdom haar begin inhaal, en sy moet ’n paar leefstylveranderinge maak, maar skuil daar dalk meer agter dié verwikkeling? Terselfdertyd sien Nazeem ’n gulde geleentheid raak om Bridgette se kwesbaarheid tot sy eie voordeel uit te buit. 

Diepe waters
Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)

Pam en Siseko se verhouding is baie broos, met emosionele nuus wat Pam diep raak en Siseko tot introspeksie dwing. Intussen raak Lettie en Henry se pad vorentoe onverwags gekompliseerd, en hul droom om die gesin uit te brei kom onder druk.

Nuwe, onverwagse emosies begin tussen Nina en Juvan ontwikkel. Karla en Lucas probeer om die twee nader aan mekaar te bring, maar selfs die mees opregte pogings loop nie altyd soos beplan nie.

kykNET&kie

Skemergrond

Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)

 Christine begin haar manipulerende plan deur Kirby en Tyler in te span, en sy probeer ook Amber se vertroue wen. Sy kry dit reg om Amber presies te kry waar sy haar wil hê en bied selfs aan dat sy en Kirby by haar kan kom woon. Lily ontdek egter iets skokkends oor Christine se ware agenda. Uiteindelik, ná ’n dramatiese ontdekking, klop Christine by Sonja aan om hulp – ’n teken dat dinge buite haar beheer begin raak.

Ruan begin intensief werk aan Willem se moordondersoek. Hy ondervra Manny en volg elke leidraad soos ’n ware bloedhond. Sy harde werk lei tot ’n belangrike deurbraak. Tillie erken skuld in Willem se moord, wat vir Dirk ’n groot skok is. Hulle verskyn in die hof vir hul borgtogverhoor en sukkel om hul nuwe werklikheid te aanvaar. Samantha gee hulle ’n moeilike tyd in die hof, en selfs met hul prokureurs se slotbetoë ondermyn sy hul saak.

Gloria speel van die begin af oop kaarte met Kevin, maar besef later hy jok vir haar. Sy oorreed hom om terug te trek Gemoedsdrif toe en besluit uiteindelik om saam met hom te gaan. Sy vind ook ’n foto van Kevin met ’n ouer vrou, wat haar vermoedens versterk. Die aanpassing is moeilik, en sy sukkel om haar lewe en besigheid agter te laat.

Plaas van passie

Maandae tot Donderdae om 20:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)

Caio vertel vir Daniel dat hy op Aline verlief is, min wetende dat sy en Daniel ’n verhouding het. Antônio wil uitvind wat van Agatha se liggaam geword het. Daniel sê vir Grace hulle moet weggaan en op ’n strand trou, terwyl hy vir Aline sê as sy haar plaas verlaat, sal hy met haar trou. Caio verklaar sy liefde aan Aline.

Wanneer Caio vir Daniel konfronteer oor sy geheime verhouding met Aline, het Daniel 'n ineenstorting en is in ’n ernstige motorongeluk. Irene blameer Caio, en sy verbied eers vir Caio om ’n draer vir Daniel se kis te wees, maar gee tog later in. Graça gee vir Marino en Tadeu skokkende nuus.

Koortjies met Elwira Standili

Sondae om 19:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)

4 Mei

Die Gospel-liefling, Puleng March, kom deel haar kragtige getuienis toe gebed haar lewe gered het, en dan gee Pastoor Tanya Bekkies raad oor hoe om gebed prakties aan te wend. Natuurlik sing Puleng ook ons harte aan die brand! 

11 Mei

Dis week kom vier die akteur en skrywer, Bianca Flanders-Balie haar eerste Moedersdag saam met ons. Haar ma, Ronalda Flanders, kom kuier saam. Die sanger, Loren Erasmus sorg vir die perfekte Moedersdag vermaak!

18 Mei

Dis Koortjies se 200ste episode op lug, en om die mylpaal te vier kom kuier Jonathan Rubain in  die ateljee! Saam herleef ons Koortjies se eerste dae, asook ander hoogtepunte, uitdagings en oorwinnings wat ons saam beleef het. 

25 Mei

Die week se tema is kindertrauma. Die terapeut, Candice Warner, deel hoe die wonde jou later kan affekteer. Jordan van Jaarsveldt deel oor sy seer kinderjare en hoe hy uit sy depressie gered is. Die gaskunstenaar is Neve Snow.  

kykNET NOU!

Dankie Ma, vir al die kosblikke en hulp met al die skooltake en toesprake.

Dankie Ma, vir al die loopneuse wat afgevee word en vir elke keer wat jy die koors weggedokter het.

Dankie Ma, vir al die stories en liedjies en drukkies en gedeelde drome.

Dankie Ma, vir al die liefde en geduld.

Dankie Ma, vir alles.

Kom geniet op hierdie Moedersdag van jou gunsteling-musiekvideo’s wat dankie sê vir alles wat Ma vir ons doen.

MOEDERSDAG
Sondag 12 Mei

11:30 – 12:00
13:30 – 14:00
14:30 – 15:00
20:30 – 21:00

Die dokumentêre program oor Laurika Rauch, Tuiskoms, word tussen 19:00 en 20:30 uitgesaai.

kykNET NOU! is op DStv-kanaal 146

Bly dié Mei in geskakel op al die kykNET-kanale vir die beste wêreldklas-vermaak – in Afrikaans.