In Junie gaan Adri deur diep waters in Die nuusmakers en begin sy alles in haar lewe bevraagteken. Die spelers in Die brug 2 vorder met hulle groot taak, maar is almal so lojaal as wat hulle voorgee? Die stories van Afrikaans se laaste drie episodes neem kykers van die sestigs tot die hede en eindig met ’n blik op die toekoms. Daar is ook ’n sonderlinge dokumentêr en nog ’n aflewering van Onthul op die spyskaart.
kykNET
Die nuusmakers
3 Junie
Tersia de Klerk, die sportaanbieder, neem Adri se plek in terwyl sy oor haar man rou. Adri en Daniël sukkel om te glo dat Dawid se dood bloot net ’n toevallige kaping was.
10 Junie
Adri keer terug as nuusaanbieder. Agterdog groei oor die man met wie sy en Dawid net voor Dawid se dood ’n onderonsie gehad het.
17 Junie
Luke le Roux se skadelike video oor Adri se huwelik laat die publiek gons. Adri se emosionele toestand begin haar uitsendings raak. Sy roep Nhlanhla in om haar met die ondersoek te help.
24 Junie
Adri wonder of sy vir te lank met oogklappe geleef het. Was daar iets in Dawid se lewe waarvoor sy ook blind was?
Die nuusmakers is op Dinsdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
Die brug 2
5 Junie
Net toe albei spanne in ’n goeie ritme kom, is daar ’n onverwagse fakkel wat ’n leierskapstryd tot gevolg het. Wie is in, en wie is uit?
12 Junie
Suidhuis verkeer in skok. Hoe gaan hulle herstel ná ’n onverwagse, wrede kinkel? ’n Staptog moet plaasvind, maar gaan een van die spelers weer agter moet bly?
19 Junie
’n Speler word ’n aardige bedrag aangebied om die span te verkul. Gaan die aanbod aanvaar word?
26 Junie
Een van die spanne bereik die halfpadmerk, en daar is ’n geleentheid vir die twee huise om saam te kuier. Almal is egter nie gelukkig oor die idee om saam met die vyand te ontspan nie.
Die brug 2 is op Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.
Boet se goet
Die meesterregisseur Koos Roets lê ’n komplekse persoonlike lewe en kuns bloot in hierdie sonderlinge dokumentêr oor die geliefde, talentvolle, enigmatiese Karoo-kunstenaar Boet van der Hoven. Die kyker gaan op ’n reis deur Boet se harde buite- en sy binnewêreld en kry insae in die stryd van ’n intense kunstenaarsgees met die lewe en sy omgewing, sy ontvlugting in pottebakkery, woorde en die skilder van Karoo-landskappe. Deur Roets se lens gee die dokumentêr ook ’n intieme blik op ’n eenkant gemeenskap vasgevang in die alledaagse sikliese gang van swaarkry, arbeid, kortstondige vreugdes, pyn en verlies, lewe en dood. Die verteller-aanbieder is die bekende digter Daniel Hugo.
Boet se goed word op 29 Junie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
Onthul: Trump tornado tref Suid-Afrika
Donald Trump het die wêreld soos ’n tornado getref. Byna geen land word gespaar nie. Vriend en vyand loop deur. Hy was nog nie eens 100 dae in die Withuis nie, toe het hy reeds 120 uitvoerende bevele uitgereik. Een van hierdie bevele is op Suid-Afrika van toepassing – om aan Afrikaners vlugtelingstatus te verleen, met ’n onmiskenbare ondertoon daarby: om die ANC, wat Suid-Afrika 30 jaar lank alleen regeer het, tereg te wys.
Met president Cyril Ramaphosa se besoek aan die Withuis, was daar gemengde gevoelens. Hoekom gee die magtigste man in die wêreld soveel aandag aan ’n oënskynlik onbelangrike land aan die suidpunt van Afrika? Waarom die groot liefde vir Afrikaners? En waarom beskou sommige van hulle Trump as ’n held, selfs ’n messias?
Hierdie kwessies het tot groot en diep verdelende debatte, hoofopskrifte en verdagmakery na alle kante gelei. In dié episode van Onthul bekyk ons al hierdie kwessies. Van die gaste sluit in Flip Buys, Christo van der Rheede, Piet Croucamp, Prince Mashele, Tony Leon, Lourensa Eckard en Dawie Roodt.
Onthul: Trump-tornado tref Suid-Afrika word op 22 Junie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uitgesaai. Dit sal ook op Catch Up beskikbaar wees.
Die stories van Afrikaans
1 Junie
Episode 6 (1960’s-1994): Gedwonge verskuiwings skeur die taalgemeenskap, en Soweto brand oor Afrikaans, maar die UWK baklei teen apartheid – in Afrikaans. Die donker 80’s baar die Vrye Weekblad en Voëlvry, kort voor ons nuwe demokrasie. Frank Opperman is die verteller.
8 Junie
Episode 7 (1994-2009): Kunstefeeste red Afrikaanse teater. Die taal raak rof met Bitterkomix en Oppikoppi, en Kaaps ontplof in sterk en woedende stemme. Aweh! Lee-Ann van Rooi is die verteller.
15 Junie
Episode 8 (2010-2025): Afrikaans groei aanlyn, bou bande met die Lae Lande, skitter op die grootdoek en herstandaardiseer, maar kom as onderrigtaal in gedrang. Tinarie van Wyk Loots is die verteller.
Die stories van Afrikaans word Sondae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.
Sepies
Binnelanders
Weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)
Nicolette het stof tot nadenke ná ’n gesprek met Joe, en sy besluit uiteindelik om haar vriendskap met Uys nog ’n kans te gee. Dit wil voorkom asof Binneland al meer probleme ontwikkel, en Delia weet nie meer watter kant toe nie. Sy word uiteindelik genoodsaak om ’n besluit te neem wat moontlik haar loopbaan kan verwoes. Henry wil hê Ella moet by hom intrek, maar die onderliggende probleme in hulle verhouding mag dié skuif dalk kniehalter. LJ neem ’n besluit oor sy toekoms wat Thalia se hart van vooraf breek, maar twee aantreklike jong manne se aandag is dalk presies wat sy nou nodig het.
Wanneer Cecile ontsnap, begin Tiaan vrae vra, maar hy besef nie hy is besig om met vuur te speel nie. Intussen is Amor vasbeslote om haar lojaliteit teenoor Binneland, en veral Conrad te bewys, maar wanneer sy meer met Rian te doen begin kry, lyk haar planne nie meer so eenvoudig nie. Terwyl Nicolette vir ’n groot en moeilike operasie voorberei, ontmoet sy ’n aantreklike man, Michael, wat haar voete behoorlik onder haar uitslaan. Mercia en Francie is al weer aan die konkel, maar wanneer Mercia uitvind wie Francie se seun is, raak dinge ingewikkeld. Ivanka daag by Binneland op en ontvang byna dadelik slegte nuus.
Suidooster
Weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)
Siya lek nog sy wonde nadat Bianca dit duidelik gemaak het dat haar hart by Riaan lê, maar onwetend dompel Bennie vir Siya en Bianca in ’n situasie wat maak dat hulle meer tyd met mekaar moet spandeer. Voorspel dit moeilikheid vir Riaan? Gary en Aiden se Namibiese besoek om hul erfplaas te verken lewer talle verrassings op. Drama vier ook hoogty in die Jacobs-gesin ná Nazeem se beroerte, en Bridgette moet links en regs vure doodslaan nadat haar en Zoë se gekonkel onmin gesaai het.
Lee-Ann is glad nie in haar noppies met die stand van sake nie, en sy kruis swaarde met Zoë. Intussen is Nazeem se pad na herstel vol duwweltjies en begin dit lyk of hy nie gou weer homself gaan wees nie. Dit lyk of liefde aan Angie se deur kom klop, maar is die gelukkige man opgewasse teen Angie se uitbundige persoonlikheid? Die Samsodiens is in rep en roer nadat Kaashifa onverwags weer in Ruiterbosch opdaag. In die proses word ou wonde oopgekrap en moet Rhafiek en Kaashifa die foute van die verlede in die gesig staar.
Diepe waters
Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)
’n Troue hang aan ’n draadjie, ’n geheimsinnige nuwe verhouding laat die tonge klap, en jong liefde kry ’n kans ... of dalk nie? Terwyl sommige paartjies uiteindelik nader aan mekaar beweeg, word ander se verhoudings tot die uiterste beproef. Daar is verrassings wat harte sal laat bons, ’n terugkeer wat ’n gelaaide atmosfeer veroorsaak, en onthullings wat selfs die mees geharde gesinslede sal skok.
Dan is daar nog die smeerveldtog wat die gemeenskap in rep en roer het, en iemand is betrokke wat veel nader aan die huis is as wat enigiemand sou kon dink. Is Gys se geheime op pad om alles te vernietig? En wie is die enigma van J-Bay wat vir almal vrae het?
kykNET&kie
Skemergrond
Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)
Christine ontdek ’n geheimsinnige sleutel in Sonja se handsak. Dit ontketen ’n reeks onthullings wat die Louw-gesin op hol jaag. Christine grawe verder en maak skokkende ontdekkings. Die Louws ontvang verwoestende nuus oor hul grond, en die grondgeskil eskaleer wanneer beide die Louw- en Van As-families ontstellende waarhede ontbloot. Met die veiling wat naderkom, en Christine wat steeds dié om haar manipuleer, moet die Louws nie net vir hulle grond veg nie, maar ook vir hul identiteit, hul eenheid en hul toekoms.
Brandon keer terug na Gemoedsdrif en onttrek hom emosioneel, maar Patty hou aan om uit te reik en slaag daarin om hom uiteindelik van ’n gevaarlike situasie af weg te praat. Terwyl die raaisel rondom Brandon ’n donkerder wending neem, ondersteun Patty hom in sy stryd met terapie.
In ’n dorp vol chaos vind Ruan en Lily vertroosting in mekaar. Hul verhouding word sterker deur die onstuimigheid wat hulle saam navigeer. Met alles rondom hulle wat uitmekaarval, word hul band ’n baken van hoop. Sal hul liefde hierdie keer uiteindelik die storm oorleef?
Sê jou sê
In Junie gaan Aden Thomas en sy gaste op Sê jou sê weer ’n paar mense warm onder die kraag hê. Die program is van 15 Junie terug op ’n Sondagaand.
15 Junie
Vanaand hoor ons van mense wie se families se grafte geskend is. Is daar twee kante aan hierdie saak?
22 Junie
Daar word gesels oor bejaardes wat volgens berigte sleg behandel word in aftreeoorde.
29 Junie
Die soeklig val op bendegeweld, en ’n oud-bendelid is ’n gas in die ateljee.
Sê jou sê is van 15 Junie op Sondagaande om 19:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
kykNET NOU!
Dankie aan al die pa’s wat ons leer visvang en fietsry het en wat saam met ons gaan kamp en vuurmaak. Dankie Pa, vir kaskarre bou en wegkruipertjie speel en monsters onder die beddens wegjaag. Dankie Pa, vir al die grappies en staaltjies en drome deel. Dankie Pa, vir al die liefde en geduld. Dankie Pa, vir alles.
Kom geniet hierdie Vadersdag van jou gunstelingmusiekvideo’s wat dankie sê vir alles wat ons pa’s vir ons doen.
Sondag 15 Junie:
11:30 – 12:00
13:30 – 14:00
14:30 – 15:00
20:30 – 21:00
Gé sing: Hoor my lied word tussen 19:00 en 20:30 uitgesaai.
kykNET NOU! is op DStv-kanaal 146.