web uni tv guide
Binnelanders S14 Slim BB
web uni tv guide

Binnelanders

144Sepie13

Hoogtepunte in Januarie op kykNET

Nuus
12 Desember 2024
Daar is wêreldklas vermaak op Januarie se spyskaart ...
Januarie 2025 hoogtepunte article image

Die Byl en sy span is terug vir ’n sesde seisoen, die opwinding en uitdagings van skolerugby word van nader bekyk, ’n handvol nuwe leefstylprogramme skop af en kykNET se heel eerste dramareeks keer terug. Dit is alles op die spyskaart vir Januarie.

Die Byl

Die misdaadreeks Die Byl maak geskiedenis met sy sesde seisoen, wat in Januarie 2025 begin. Dié seisoen maak dit die dramareeks met die meeste seisoene in kykNET se geskiedenis. Reeksmoordenaars bly ’n uitdaging vir Byl en sy span, en dié keer is daar ’n genadelose moordmasjien wat vasberade is om hulle hel op aarde te gee. Dít terwyl Byl en sy span ook met hul eie demone worstel.

Byl (Waldemar Schultz) lei steeds die eenheid, ondersteun deur die speurders Juan (Marvin Lee Beukes) en Lena (Lika Berning), die regskenner Nicki (Milan Murray) en Jo (Amalia Uys), ’n voormalige sluipmoordenaar wat nou as wapenkenner ingespan word. Kaptein William Miller (Tyrone Keogh) is ’n profileerder, en dr. Anton Fourie (Marcel van Heerden) is ’n patoloog wat in seisoen vyf by die span aangesluit het.

Daar is ook ’n paar nuwe karakters in dié seisoen: Eliaan Slee (Melissa Willering) is klein en tengerig maar hiperintelligent, dr. Elize Opperman (Roeline Daneel) is ’n ambisieuse wetenskaplike, en Daniël Weyers (Sherman Pharo) is ’n oud-polisieman en Dr. Opperman se handlanger.

Ander karakters wat weer deel van die intrige is, sluit in Benjamin Vlok (Danny Ross), die webontwikkelaar Stephen (Sean van Noordwyk) en kapt. Tarina Spies (Ronel Stander), wat bitter graag ’n lid van Byl se span wil word. Van die bekende gesigte in die nuwe reeks is Melanie du Bois, Hannes van Wyk, Pascual Wakefield, Antoinette Louw, Rika Sennett, Geon Nel, Cedwyn Joel, Carel Nel en die legendariese akteurspaar Johan en Lida Botha.

Die Byl se sesde seisoen begin op 14 Januarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

Rugby of niks


Een keer per jaar in die winter kom die Paarl tot stilstand en sak duisende mense op dié mooi dorp in die Boland toe. Families en vriende word verdeel en kies kant. Sportwedstryde oor bykans alle dissiplines word gespeel. Selfs bome in die strate word versier – blou en wit vir Boishaai en Girls’ High; maroen, groen en goud vir Gimmies.

Die interskoleweek tussen Paarl Gimnasium en Boishaai en Girls’ High, oftewel Hoër Jongenskool Paarl en Hoër Meisieskool Paarl, is immers die grootste van sy soort in die wêreld. Maar dit is veral die kragmeting tussen die seuns van die eerste rugbyspanne wat die gemoedere koorsig hoog laat loop – ’n klimaks van jare se opofferinge en harde werk.

In Rugby of niks, ’n dokumentêre reeks van agt episodes wat op 1 Januarie op kykNET (DStv-kanaal 144) begin, word daar na die gees van hierdie legendariese skolerugbywedstryd gekyk; na hoe karakter gebou word; hoe persoonlike uitdagings in die oë gekyk en die hoof gebied word en lewenslesse op en van die veld geleer word.

Rugby of niks begin op 1 Januarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar. 

Lekker en goed

Lekker en goed debuteer in die nuwe jaar op kykNET. In dié leefstylprogram gaan Carmen Niehaus – Huisgenoot se voormalige kosredakteur en skrywer van sowat 25 kookboeke – nie net ’n hond uit ’n bos kook nie, sy gaan ook bekendes saam met haar op ’n kosreis neem. Van die bekendes wat op die program te sien sal wees, sluit Marciel Hopkins, Herman Lensing, Johnny Davids en Antoinette Kellermann in.

Lekker en goed is van 2 Januarie om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Ruben in Namibië

Op die plaas Simmenau buite Windhoek in Namibië woon Ruben Lambrechts, ’n jong man met ’n groot digitale voetspoor: 1.4 miljoen volgelinge op Facebook en meer as 400 000 op TikTok. Maar dis nie Ruben wat al die aandag trek nie – mense kry nie genoeg van die doen en late van die bobbejaan Cindy Crawford, die twee meerkatte Jerry en Minki en ’n rits ander diere wat Simmenau hulle huis noem nie.  

Op 6 Januarie om 20:30 kan kykers regskuif om dié liefdevolle spannetjie te ontmoet in die eerste van twee episodes van die kort dokumentêre reeks Ruben in Namibië.

Cindy, wat in 2024 haar 30ste verjaardag gevier het, is die groot ster van die werf. Sy is as babatjie deur Ruben se ouers, Barista en Malan, hans grootgemaak. Op Simmenau bly geen diere in hokke nie, en die Lambrechts-gesin hoop van die diere kan weer in die natuur hervestig word.

In die eerste episode ontmoet ons die familie. Benewens Ruben, Barista en Malan, is daar Ruben se tweelingbroer, Tertius, asook die ander diere op die plaas, soos Zoey die muishond, die vlakvarkies Betsie en Bennie, Rigby die Bavariese bloedhond (Cindy se boesemmaat) en Tewis die Afrika-wildekatkruising, wie se pa ’n regte wilde kat is.

Ruben in Namibië word op 6 en 13 Januarie om 20:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

 

Elders: Ligtoringroete

Die stapper en skrywer Erns Grundling is in Januarie 2025 terug op die kassie in die sewende seisoen van die Safta-bekroonde leefstylreeks Elders. Die nuwe seisoen, Elders: Ligtoringroete, begin op 6 Januarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Hierdie is die derde seisoen waarin Erns ’n plaaslike roete in die Pelgrimstog van Hoop-netwerk stap. In 2020 het hy tydens die pandemie die roete van Kaapstad tot Kaap Agulhas gevolg en in 2022 van Uniondale tot Mosselbaai. Nou stap Erns die nuwe Ligtoringroete tussen die ikoniese ligtorings van Mosselbaai en Kaap Agulhas. Die roete is sowat 340 km lank, en pelgrims stap dit gewoonlik oor 17 dae.

Erns en die span van Bonanza Films het egter ’n maand op die roete spandeer en geskiet, aangesien dié seisoen ook verskeie uitstappies in die omgewing insluit. Die roete strek eers kuslangs van Mosselbaai tot by Jongensfontein, daarna die binneland in tot by Malgas, en dan verder deur die Overberg naby Bredasdorp verby en weer kuslangs tussen Struisbaai en Kaap Agulhas.

Elders: Ligtoringroete begin op 6 Januarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.

Herders

Ons lewe in onseker tye, en met meer en meer mense wat antwoorde soek, het die rol van geestelike leiers onmisbaar in die lewens van gelowiges geword. Herders, ’n nuwe kykNET-dokkie-reeks, volg ’n aantal geestelike leiers wat hulle kuddes op hulle eie unieke manier na die Here lei.

Oor agt episodes leer Rian van Heerden en sy span nie net die herders ken nie, maar ook die omgewing waarin hulle hulself bevind en kry hulle insae in hoekom hierdie geestelike leiers so ’n groot rol speel in die gemeenskappe wat hulle bedien.

“Ek wou nog altyd ’n program maak oor geloof, en wat is ’n beter manier om meer uit te vind oor die geloofspad van mense as om met hulle geestelike leiers te gesels? Die stories van die herders en individue uit hulle kuddes is ongelooflik. Om nie van die pragtige visuele elemente te praat nie!” vertel Rian, die vervaardiger van die reeks.

Van die temas wat die reeks ondersoek, is inklusiwiteit in die kerk, die NG Kerk van toe en nou, kerke in klein dorpies, asook bekende persoonlikhede en nuusmakers wat kerke lei.

Ons ontmoet, onder andere, die NG-dominee Riaan de Villiers van die Groote Kerk in Kaapstad, pastoor Johan van Eck van die West Rand Bikers Church, pastoor Heinz Winckler van LoveKey Church, profeet Graeme Williams van Fire Torch Ministries en ds. Farren Cloete van die VGKSA Lambertsbaai.

“Hierdie is ’n reeks wat my baie na aan die hart lê. Ek voel bevoorreg dat ek dwarsoor die land hierdie ongelooflike mense kon ontmoet. Jy kan nie anders as om tydens en ná elke episode ’n baie spesiale warmte te ervaar nie – ’n gevoel dat daar soveel meer daarbuite is as wat ons ooit sou kon dink,” vertel Rian.

Herders word deur Provoco vervaardig, wat ook verantwoordelik was vir reekse soos Laataand by Rian, Hougaard: Liefling van Loftus, Die siener en Bolhuis beslis

Herders begin op 19 Januarie om 20:00, net op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

Onthul – Ontvoerings: Jy is ook 'n teiken

Die jongste misdaadstatistiek wys Suid-Afrika is vinnig op pad om een van die wêreld se voorste ontvoeringsbrandpunte te word. Volgens Statista het ons reeds die hoogste ontvoeringsyfer in Afrika, met 9.57 ontvoerings per 100 000 van die bevolking. Suid-Afrika is sesde wêreldwyd wanneer dit by ontvoerings vir lospryse kom.

In hierdie episode van Onthul word die skerp toename in ontvoerings ondersoek. Meer as 50 ontvoerings vind daagliks plaas, met ’n styging van bykans 260% in die afgelope dekade. Kenners praat oor die redes vir hierdie skerp toename. In sommige gevalle is internasionale misdaadsindikate betrokke by ontvoerings vir lospryse, en in ander is dit net opportunistiese misdaad. Watter verskillende tipes ontvoering is daar? En wat kan gedoen word om hierdie vreesaanjaende misdaad hok te slaan?

Onthul – Ontvoerings: Jy is ook ’n teiken is op 12 Januarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

Laurika se Tuiskoms

’n Eksklusiewe dokumentêre program oor die ikoon Laurika Rauch se opname van wat sy sê haar laaste album is voor sy uit die musiekbedryf tree. Die program wys filmopnames wat nog nooit voorheen gesien is nie en eer ’n sangeres wat oor dekades heen tot die Suid-Afrikaanse musiekskatkis bygedra het.

Laurika vertel van die stories agter die liedjies op die album, getiteld Huis, en verskeie van haar kollegas in die musiekbedryf praat oor haar loopbaan van meer as 50 jaar. Van die bekendes wat deelneem, is Carike Keuzenkamp, Anton Goosen, Karlien van Jaarsveld, Tarryn Lamb, Emo Adams, Francois van Coke, Zolani Mahola en Vusi Mahlasela.

Laurika se Tuiskoms is op 25 Januarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

 kykNET-nostalgie: Song vir Katryn

kykNET het in 2024 die kanaal se 25ste verjaardag gevier en teruggekyk op jare se suksesse. Een daarvan was die kanaal se eerste dramareeks, Song vir Katryn. In Januarie is daar ’n splinternuwe tydgleuf vir almal wat met nostalgie terugdink aan reekse wat deur die jare kykers vermaak het, en ook vir dié wat dit nog nooit gesien het nie.

Op 19 Januarie skop kykNET-nostalgie af met die heruitsending van Song vir Katryn wat die verhaal vertel van ’n sexy jong dokter en musikant wat verlief raak op ’n vrou met ’n donker en geheimsinnige verlede. In die rolverdeling is Valiant Swart, Therese Benade, Jacques Bessenger en Marius Weyers. Die reeks is geskep deur die legendariese Jan Scholtz.

Song vir Katryn begin op 19 Januarie om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

Superskole Sport

Superskole sport is ’n nuwe program wat om skolesport in Suid-Afrika draai. Die aanbieder, Johan Smith, en ’n verskeidenheid gasaanbieders kyk weekliks na van die grootste uitslae in skolesport en gesels met afrigters, spelers en administrateurs. Die eerste reeks fokus op somersport (atletiek en krieket). Kykers gaan op hoogte gehou word van al die gebeure op die plaaslike skolesportkalender en kennis maak met sowel nuwe uitblinkers as gevestigde sterre.

Superskole Sport is van 14 Januarie om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Die ondernemers

Die ondernemers, wat oorspronklik op Showmax gestroom is, is van 7 Januarie op kykNET te sien. Die reeks volg drie entrepreneurs in die begrafnisondernemingsbedryf: Candice Austin, eienaar van Goodall & Bourne Funeral Undertakers, Jano van der Berg van Van der Berg Funeral Services en die voormalige Stormers-rugbyspeler Ramone Samuels, hoof van SamWill Funeral Services, wat hy saam met sy broer, die Springbok-rugbyspeler Damian Willemse, besit.

Die ondernemers is van 7 Januarie om 21:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

 

Nuwe seisoene van gewilde reekse

Met ’n huppel in die stap, ’n program gemik op ouer kykers en afgetredenes, keer terug op Nuwejaarsdag. Die aanbieders is weer Riaan Cruywagen, Simon Bruinders, Bettie Kemp en Jacqui January. 

Met ’n huppel in die stap is van 1 Januarie om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Hannes aan huis keer terug vir ’n elfde seisoen, en kykers kan dié keer saam met die gewilde aanbieder Hannes van Wyk in die huise van legendes soos Emsie Schoeman, Wilna Snyman, Riaan Cruywagen en Hans Strydom kuier.

Hannes aan huis is van 7 Januarie om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Mal kamper se Dewald Visser verken weer Suid-Afrika en sy lekker kampplekke. Hy besoek in die nuwe reeks ook ’n paar ander lande in Afrika en in die res van die wêreld. In die eerste episode spring hy weg met ’n rit deur die sneeu by Ceres. Hy seil ook in Noorweë en ry duine in Namibië.

Mal kamper is van 4 Januarie om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Stralend is terug vir ’n tweede seisoen, en Angelique Gerber en Fafa de Klerk gaan twaalf deelnemers van kop tot tone en tot in hul siele transformeer.

Stralend is van 5 Januarie om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Hier gaan ons alweer is terug vir ’n allemintige 23ste seisoen, en Petri de Wet en sy gashengelaars gaan Suid-Afrika en Afrika plat toer op soek na vis en avontuur.

Hier gaan ons alweer is van 6 Januarie om 17:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Sakegesprek met Theo Vorster gaan kykers weer op hoogte hou van wat in die sakewêreld aangaan met interessante gaste, nuus oor die ekonomie en ander aktuele kwessies.

Sakegesprek met Theo Vorster is van 29 Januarie om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

 

Richard the Stork

’n Genotvolle animasiefliek, wat in Afrikaans oorgeklank is, oor ’n weesmossie wat deur ooievaars grootgemaak word. Oortuig dat hy een van hulle is, vlieg hy suid om sy ooievaarfamilie te soek nadat hulle sonder hom migreer het.

Richard the Stork is op 11 Januarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

 

Sprokie in die platteland

7 Januarie om 20:00

Lienke se ma wou altyd gehad het sy moet terugkom platteland toe, en ná ’n verhouding wat nêrens gaan nie en ’n kruispad in haar loopbaan, stem sy in om tydelik kuns te kom gee by dieselfde laerskool waar sy self op die skoolbanke was. Sy kry egter ’n onaangename verrassing toe sy uitvind dat Ruan, die bure se seun wat haar hart op hoërskool gebreek het, nou een van haar nuwe kollegas is. Sprokie in die platteland is ’n speelfilm vir die hele familie met Marguerite van Eeden, Sean-Marco Vorster, Marciel Hopkins en Zak Hendriks. 

 

Sepies

Binnelanders

Weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)

Laetitia moet ’n groot besluit neem wanneer dit duidelik raak dat haar gesondheid al meer agteruit gaan, en Louis is uiters gespanne oor die komende hofsaak – veral wanneer dit duidelik raak dat die orgaanhandel-sindikaat moontlik steeds aktief is en Louis dreigemente begin kry. Elise maak (uiteindelik!) haar opwagting, maar alles is nie pluis nie – veral wanneer sy ’n onverwagse besoeker uit Italië ontvang.

Binneland se splinternuwe Ongevalle word tydens ’n perskonferensie bekendgestel, troukoors is in die lug, en Gaby is op ’n missie om Tracy se kombuistee onvergeetlik te maak, maar dan maak ’n siener allerhande voorspellings wat die amper-bruid in ’n toestand laat. Henry is gespanne oor ’n hofaansoek, maar dan help Ella (en Thalia) hom om ’n verrassing vir Riekie voor te berei.

Suidooster

Weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)

Bridgette se verlangse familielid Damian maak homself gou tuis in haar huis en in Ruiterbosch. Dit lyk of hy ook baie gemaklik in Zoë se geselskap is. Wade vertrou nie die vrede met Damian nie, maar besluit om hom tog ’n kans te gee. Kort voor lank wys hy egter sy ware kleure, en Wade is gefrustreerd dat niemand rondom hom sien wie en wat Damian regtig is nie. Dit voorspel net moeilikheid, maar hoe meer Wade rooi oor Damian sien, hoe meer smeer Damian heuning om almal anders se monde.

Riaan en Hanli droom oor ’n nuwe begin, en dit bly maar ’n bitter pil vir Bianca om te sluk. Maar gaan Riaan dalk sy besluite berou? Siya en Angie begin al hoe meer gemaklik in mekaar se geselskap raak, en dit wil lyk of daar meer as net ’n goeie vriendskap hier aan die broei is. Die Samsodiens maak reg vir Kaashifa om te kraam, maar die koms van ’n pienkvoet in die familie skep ook nuwe uitdagings. ’n Ondenkbare gebeurtenis het Gary, Wade, Nazeem en ’n paar ander inwoners van Ruiterbosch op hete kole.

Diepe waters

Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)

Theresa se hofverskyning hou die Swarts-familie op hulle senuwees, terwyl Rossouw sukkel om sy lewe weer op koers te kry ná sy ontrouheid. Intussen raak René se geheim steeds moeiliker om weg te steek, en Tomi se protesaksies het onvoorsiene gevolge. Bekende gesigte keer terug na Boskruin, maar dit bring nuwe spanning en onverwagse uitdagings vir almal.

kykNET&kie 

Skemergrond

Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)

Noudat Tillie se lewe in chaos gedompel is, spring Manny dadelik in om haar redder te speel sonder dat hy weet wat eintlik aangaan. Tillie is al te dankbaar vir die ondersteuning terwyl sy probeer om Willem se dood te verwerk. Gaan Manny eindelik sy kans met Tillie kry?

Al is Beeno en Glora nou al vir ’n rukkie saam, kan Kevin steeds nie vrede daarmee maak nie. En dis goed, want hy dring uiteindelik deur tot haar, en sy kom uit met die hele sak patats. Kevin is natuurlik geskok, maar dié tweetjies beraam vinnig ’n plan, onbewus dat Beeno klaar agtergekom het Gloria is besig met haar eie planne.

Terwyl die Louws stadig maar seker die stukke probeer optel, tref nog ’n terugslag hulle. Nie net sukkel hulle steeds om die leningspaaiement te betaal nie, maar Junior is in ’n ongeluk wat sy hele lewe onherroeplik verander.

Bly ingeskakel op die kykNET-kanale in Januarie en gesels saam op Facebook, X, Instagram en TikTok