kyknet channel logo

Hoogtepunte in Augustus op die kykNET-kanale

Nuus
04 Augustus 2025
Hier is wat in Augustus voorlê op kykNET, kykNET&kie en kykNET NOU!
August highlights



Spoorloos: Losprys

Spoorloos se vyfde seisoen, Spoorloos: Losprys, is soos die vorige aflewerings van dié reeks ’n losstaande spanningsverhaal. Dié uittog handel oor ’n ryk wildboer, Brand (Louis Minnaar), wie se tiener-kleindogter, Karla (Lienke Vermeulen), ontvoer word tydens haar pa, Willem (Neels Clasen), se moordverhoor. Sy is ’n sleutelgetuie in die saak. Haar ma, Lynette (Angelique Pretorius), word genoodsaak om haar eks-minnaar, Frank (Laudo Liebenberg), om hulp te vra, synde hy die enigste ervare speurder in die distrik is. Maar sodra die saak opgelos word, verdwyn nog iemand spoorloos – en hierdie keer word geen losprys geëis of leidrade verskaf nie. Die draaiboekskrywer is Mitzi Booysen, en die vervaardigers is Ohcre Moving Pictures.

Die rolverderling sluit in Angelique Pretorius, Laudo Liebenberg, Neels Clasen, Lienke Vermeulen, Liam Bosman, Nahum Hughes, Louis Minnaar, Melissa Willering, Deon Coetzee, Blyde Smit en Jacques Gombault.



Spoorloos begin Dinsdag 26 Augustus om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.



Boer soek ’n vrou

Die nuwe seisoen van Boer soek ’n vrou skop in Augustus af, en tien boere se soeke na liefde gaan sonder twyfel weer kykers aan die gons hê. Vanjaar se oes van deelnemers se ouderdomme wissel tussen 26 en 56, en die boere verteenwoordig ses provinsies, met die Vrystaat wat die voortou met drie hubare boere neem.

Soos voorheen sal Boer soek ’n vrou, wat sedert 2007 ’n móét op die Suid-Afrikaanse televisiekalender geword het, grootliks fokus op die vyf boere wat die meeste inskrywings ontvang het.

Reandi Grey klim vir die eerste keer agter die stuur van die Boer soek ’n vrou-Hilux-bakkie in, en sy sê daar is talle verrassings wat op kykers wag in ’n vars seisoen.

“Daar is nie net tien nuwe boere nie, maar ook ’n splinternuwe regisseur en ’n nuwe aanbieder,” verduidelik Reandi. “Al die boere wat ingeskryf het, is ook mense wat ek self naby aan my gaan wil hou vir die res van my lewe. Hulle is besonderse sout-van-die-aarde-mense wat liefde verdien – en ek voel geëerd om deel daarvan te kon wees.”



2025 se boere is:

Nicolaas (37) – skaap- en saaiboer van Bredasdorp, Wes-Kaap

Rudi H (56) – boerbokboer van Windsorton, Noord-Kaap

Lourie (26) – beesboer van Vryburg, Noordwes

Rudi (47) – toerisme- en wildboer van Beestekraal, Noordwes

Evert (38) – makadamia-, sitrus- en wildboer van Tshipise, Limpopo

Willie (26) – makadamia- en wildboer van Badplaas, Mpumalanga

Reinier (29) – saai-, bees- en skaapboer van Frankfort, Vrystaat

Ruan (30) – skaap-, bees- en saaiboer van Tweespruit, Vrystaat

Christof (38) – turksvy- en soutboer van Petrusburg, Vrystaat

Pieter (29) – skaapboer van Richmond, Noord-Kaap

7 Augustus: Ontmoet die boere

In die eerste episode ontmoet die aanbieder Reandi Grey die tien boere wat in hierdie seisoen hulle plase en harte oopmaak.

14 Augustus: Die briewe

Reandi val weer in die pad om die tien boere se briewe af te lewer. Binne 24 uur moet die vyf boere met die meeste briewe tien pasmaats kies om in die Kaap te ontmoet.

21 Augustus: Blitsafsprake

Van reg oor die land kom die pasmaats vir ’n kort kennismaking met die boer van hul keuse. Elkeen kry presies vyf minute om met hulle boer te gesels, en daarna word vyf gekies om verder te gaan.

28 Augustus: Groepafsprake

Die vyf boere kry ’n bietjie meer tyd om hul vyf pasmaats beter te leer ken. Elke boer moet drie kies om op die plaas te gaan kuier, en wie weet, dalk is een van hulle dié een.

Boer soek ’n vrou is Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.



Oplossings vir die platteland

Suid-Afrika se plattelandse gemeenskappe word toenemend gekonfronteer met groeiende uitdagings, maar eerder as om op hulp en bystand te sit en wag, neem baie die inisiatief om hul eie oplossings te vind.

Oplossings vir die platteland, ’n driedelige dokumentêre reeks, het op 27 Julie op kykNET afgeskop en belig die inspirerende Suid-Afrikaners wat moeilike omstandighede in hoop omskep. Die reeks bied ’n blik op boere, gemeenskapsleiers en gewone Suid-Afrikaners wat met passie en vindingrykheid hul dorpe en gemeenskappe transformeer.

Geïnspireer deur die Landbouweekblad-konferensie wat ’n platform vir plattelandse suksesverhale geskep het, verken Oplossings vir die platteland slim inisiatiewe wat landbougemeenskappe transformeer.

“Ons wil vir kykers wys dat gewone mense ook ’n verskil kan maak. Of jy nou ’n hospitaal in Barkly-Oos red, ’n sopkombuis in Bothaville bestuur of net die sypaadjie voor jou huis netjies hou – dit alles dra by tot ’n beter Suid-Afrika, wat ons almal wil hê,” sê Chris Burgess, die redakteur van Lanbouweekblad.

Oplossings vir die platteland is op Sondae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.



Moer ’n boer

Jy kan boer, maar kan jy, wel, jou man staan? In die tweede seisoen van die realiteitsreeks Moer ’n boer, wat Saterdag 26 Julie op kykNET begin het, verruil 28 boere hulle trekkers en stropers vir die opwindende wêreld van gemengde gevegkuns, oftwel MMA (mixed martial arts). Dít terwyl hulle steeds boer.

Onder leiding van die UFC-vegter Cameron Saaiman en aangevuur deur die unieke charisma van die gasheer, Janneman van den Berg, volg kykers die boere se pad van die plaas na die geveghok. Die reeks wys die boere se reis na selfontdekking, hulle harde werk en toewyding, asook die kameraadskap en konflik. Neil Geyser en Dwain Meredith is die boere se afrigters.

Dit gaan egter nie net oor boer en baklei nie. Die boere moet ook hulle staal op ander maniere wys – van ’n skietkompetisie tot ’n braaikompetisie. Daar is selfs ’n episode waarin die boere die media tydens ’n perskonferensie moet trotseer.



Die reeks sluit af met episode 13 waarin Janneman, Cameron en die 28 boere mekaar vir ’n glansryke reünie ontmoet. Die episodes is 30 minute lank en beloof om propvol aksie, humor en vermaak te wees.

Moer ’n boer 2 is op Woensdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.

Onthul: Te goed om waar te wees

Volgens SABRIC (SA Bankrisiko-inligtingsentrum) het swendelary skerp toegeneem in Suid-Afrika met meer as R3 miljard wat in 2023 as gevolg van slenters en bedrog gesteel is. Dit sluit kuber- en KI-slenters en bankkaartbedrog in. Sharemax, Louis Liebenberg se diamantskema, en Kleuterzone is voorbeelde van onlangse bedrog-, Ponzi- en piramide-skemas wat tot groot finansiële skade vir duisende Suid-Afrikaanse slagoffers gelei het.

In Onthul: Te goed om waar te wees val die kollig op swendelary, en vorige opspraakwekkende gevalle soos die kubusskema, Krion en Steinhoff kom onder die vergrootglas. Daar word gekyk na hoe hierdie slenters werk en met deskundiges – van ondersoekers, joernaliste tot regskenners – gepraat oor hierdie verskynsel en hoe dit oor die jare tot mense se finansiële ondergang gelei het. Slagoffers deel hulle stories en ’n sielkundige praat oor die werklike verlies wat sulke slenters vir slagoffers inhou – nie net finansieël nie, maar ook emosioneel.   

Onthul: Te goed om waar te wees word op 17 Augustus om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uitgesaai. Dit sal ook op Catch Up beskikbaar wees.

kykNET Silwerskermfees

Silwerskermtoekennings weer regstreeks uitgesaai


Dit is beslis een van die grootste glansaande van die jaar, en kykers gaan weer die kans kry om te deel in die opwinding van vanjaar se Silwerskermtoekennings vir Film en TV wat op 23 Augustus by Kiks in Kaapstad plaasvind. Dit sal die volgende aand op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai word.

By hierdie swierige toekenningsgeleentheid sal die beste speelfilms vereer word wat by die 13de kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai vertoon is, asook die akteurs, aanbieders en persoonlikhede wat tussen 1 April 2024 en 31 Maart 2025 vir puik vermaak op kykNET-kanale gesorg het.

Die geleentheid word deur Armand Aucamp en Rozanne McKenzie aangebied, en gaste kan uitsien na optredes deur Early B, Janie Bay en Elandré.

Silwerskermfees loods talle nuwe trefferreekse

Die kykNET Silwerskermfees, wat van 20 tot 23 Augustus in Kampsbaai gehou word, is nie net ’n toonaangewende geleentheid waar nuwe films bekend gestel word en mense in die bedryf skouers skuur nie – dit laat val ook reeds die afgelope twee jaar die kollig op vars televisievermaak. Vanjaar gaan loodsepisodes van die volgende komende kykNET-reekse by die fees vertoon word.



Jou MASE taal

Jou MASE taal fokus op bruin en swart Afrikaanssprekendes se komplekse verhouding met die taal. Dié dokumentêre reeks wat deur IdeaCandy vervaardig is en met Stephanie Pekeur in die regisseurstoel, ontrafel hoe sprekers van kleur met die taal omgaan, hoe dit hulle laat voel en in watter mate hulle die taal omarm of verwerp. Daar word gefokus op temas van identiteit, onderwys, die werksplek en politiek.

Met: Fatima Abdool, Moenier “Monox” Adams, Terry-Ann Adams, Earl Basson, Allan Boesak, Deon Daniels (“DJ Ready D”), Christo Davids, Quintin “Jitsvinger” Goliath, Ephraim Gordon, Jason “Hakkiesdraad” Hartman, Edward Charles Human, Virginia Keppler-Young, Llewellyn MacMaster, Rozanne McKenzie, Pulane Nel-Sekepe, Janine “Blaq-Pearl” Overmeyer en Chrislynn Sias

Van Sondag 21 September om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

Spoorloos: Losprys

Spoorloos se vyfde seisoen, Spoorloos: Losprys, se eerste episode word by die fees gewys. Die rolverdeling sluit in Angelique Pretorius, Laudo Liebenberg, Neels Clasen, Liam Bosman, Melissa Willering en Deon Coetzee.

Van Dinsdag 26 Augustus om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.



Fanaties

Fanaties fokus op Natie Ferreira en sy doen en late in die oudhedewêreld. Hy ontdek die waardevolle, antieke, vergete en interessante goeters uit eras wat verby is. Maar eintlik lê die kern van die reeks in die stories agter die items: die mense en die geskiedenis. Waar daar oudhede is, is daar ook restourasiewerk, en daar is ’n hele paar interessante projekte op hande. Natie is nie bang vir krap, stof of spinnerakke nie, en dit is juis hier waar hy die waardevolste dinge vind. As Natie nie rondrits en versamelaars ontmoet nie, is hy by Die Sinkhuisie, sy winkel in Pretoria. Hier werk hy saam met sy ma en sy skoonma, en ook sy regterhand, Mandy. Dit is altyd interessant om te sien wie by die winkel instap en waarna hulle op soek is.

Ook met Emily Ferreira, Sharon Graham, Mandy-Ann Venter, Milly-Anne Skead en prof. Alex Duffey.

Van Woensdag 5 November om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die reeks sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.

Sepies



Binnelanders

Weeksdae om 19:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)


Wanneer Delia se dae by Binneland tot ’n einde kom, moet sy ’n besluit oor haar en Conrad se verhouding neem. Maar dan vind Lukas uit vir wie Amor werk, en alles verander. Riekie groet om haar fotografiedroom in Knysna te gaan najaag. Tertius en Tracy word met iets (en iemand) gekonfronteer wat die res van hul lewens kan beïnvloed, en ná 'n gesukkel begin Petro uiteindelik as verpleegsuster by Binneland werk. 

Nicolette neem 'n belangrike besluit oor haar toekoms, en Uys stort uiteindelik sy hart teenoor haar uit. Louis en Naomi se aannemingsproses vorder, en Henry begin twyfel oor sy toekoms by Binneland. 



Suidooster

Weeksdae om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en 18:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)


Kate begin glo dat Henog haar beskermengel is, maar haar visioene skep verdere spanning met Siya én in die gemeente. Die waarheid agter haar hallusinasies word uiteindelik onthul – en dit ruk aan haar geloof soos nog nooit tevore nie. Intussen probeer Frankie en Justin hulle nuwe lewe saam aanpas, maar haar ouers, Mike en Amanda, daag onverwags op, en hulle saamblyery lei tot groot drama.

Wanneer Frankie se ouers besluit om langer te bly, word familiegeheime blootgelê, en kort voor lank is die gort gaar. Bianca bedank by Oos Wes nadat Kaashifa weer haar planne verander, en sy besluit dis tyd om haar eie pad te stap. Dit lyk ook of daar hoop is vir Rhafiek en Kaashifa om die strydbyl te begrawe. Nazeem begin sy lus vir die lewe terugkry. Sy pad kruis met ’n geheimsinnige ontkleedanseres, Shandy, maar dit voel vir hom of hy ’n spook sien. Shandy het egter ’n verskuilde agenda, en Bridgette is vasbeslote om Nazeem teen haar te beskerm.



Diepe waters

Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144)


Henry en Lettie is in die sewende hemel met ’n groot droom wat bewaarheid is, maar dan moet hulle die werklikheid in die gesig staar en vinnig planne maak. Karla is verward oor haar gevoelens en moet moeilike besluite neem oor haar toekoms met Arno. Terselfdertyd besluit Sanet om iets te doen wat lankal in haar hart reg voel, maar Fourie spring haar net betyds voor.

Die maand neem ’n donkerder wending wanneer ’n tragedie almal skok. Sal die waarheid uitkom, en indien wel, wat gaan die nagevolge daarvan wees?

kykNET&kie



Skemergrond

Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)


Christine se plan om Everlasting te saboteer raak al hoe meer intens en begin die plaas se fondamente skud. Sy manipuleer die mense rondom haar, dryf ’n wig tussen JP en Jasmine in en plaas JP in ’n onmoontlike posisie wat hom woedend laat. Hazel probeer om dinge beter te maak,  maar beland self in die spervuur. Christine se taktieke raak al hoe meer aggressief – van ’n valse brief tot regsdreigemente. Sy sal duidelik nie ophou voordat sy teruggekry het wat sy glo aan haar behoort nie.

Ná ’n mislukte eerste dag op Everlasting, begin Fabian uiteindelik sy voete vind, maar sy verlede haal hom in. Ruan se konfrontasie ruk hom, en Gloria bly op haar hoede en bevraagteken sy bedoelings. Sy vriendskap met Junior laat Jasmine bekommerd, en Fabian se ware motiewe is vaag. Al is sommige inwoners bereid om hom ’n tweede kans te gee, bly Gloria skepties.

Te midde van konflik in die gemeente en ’n ongeluk met die kerk se eiendom, ontstaan ’n dieper verbintenis tussen Wayne en Erica. Hulle deel stil oomblikke en geestelike insigte, en uiteindelik is daar selfs ’n afspraak tussen die twee, maar dit is nie alles maanskyn en rose nie. Wayne worstel met sy plek in die gemeenskap, Erica kry skokkende nuus, en albei sukkel om hul gevoelens en hul verantwoordelikhede te balanseer. Terwyl gerugte begin versprei en die druk toeneem, moet hulle besluit wat hulle werklik vir mekaar beteken.



Plaas van passie

Maandae tot Donderdae om 20:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145)


Aline se prokureur kry ’n hofbevel wat Antônio verbied om op haar grond vir minerale te delf. Wanneer die balju die lasbrief op Antônio dien, dreig hy hom. Irene kom agter dat klein Daniel, Merino se seun is, en sy jaag Graça en haar kind uit haar huis uit. Aline verbreek die verhouding tussen haar en Caio en gee die ring terug.

Antônio beraam ’n bose plan teen die adjudant. Irene rou oor die kleinseun wat sy nooit gehad het nie. Graça se ouers is op die punt om hulle webwerf te loods, tot Anely se ontsteltenis. Marino is onder verdenking nadat wapens in sy kamer gevind word. Irene bied vir Graça geld aan om Daniel by haar oor te neem.



Sê jou sê

Aden Thomas en sy gaste op Sê jou sê takel oudergewoonte ’n hele paar moeilike onderwerpe.

3 Augustus

Ons bekyk bedrog rakende die afsterwe en begrafnisse van geliefdes.

10 Augustus

Ons gesels oor ouerskap en hoe om dit te hanteer. ’n Sagmoedige benadering blyk die beste te wees.

17 Augustus

Wat kan jy doen as jy verkeerdelik gearresteer word? Ons hoor van mense waarmee dit gebeur het en bespreek die gevolge.

24 Augustus

Daar is ’n pastoor in Kaapstad wat hom besig hou met baie onkerklike sake. Ons gesels met twee van sy slagoffers.

31 Augustus

Ons bespreek dobbelverslawing. In die ateljee is ’n verslaafde, ’n gerehabiliteerde verslaafde en ’n kenner wat weet hoe om dit te hanteer.

Sê jou sê is Sondagaande om 19:00 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.