Hier.Na, die aktrise Quanita Adams se debuut as filmregisseur, vertel die verhaal van die Burgess-familie, ’n tipiese moderne, kultureel gemengde Suid-Afrikaanse gesin in die noordelike voorstede van Kaapstad. Eric is nie vas aan enige geloof nie, maar sy vrou, Juleigha, wat verkies om Julie genoem te word, is ’n niepraktiserende Moslem.
Eric en Julie het twee kinders. Dean is ’n professionele aanlyn gamer en Leila is ’n mediese student wat haar Moslem-identiteit herontdek het – iets wat haar ma erg irriteer. Toe Julie skielik sterf, onderneem Leila om vir haar ’n Moslem-begrafnis met die hulp van Julie se ma te reël. Dit krap die hele familie om. Almal moet nou jare se konflikte en onderstrominge binne een onstuimige dag navigeer sodat Julie, soos Moslem-tradisie vereis, voor sonsondergang begrawe kan word.
Die draaiboek is deur Quanita geskryf en in die rolverdeling is David Isaacs, June van Merch, Trudy van Rooy, Shiefaa Hendricks, Lyle October, Beer Adriaanse en Emile Smit.
Hier.Na was die wenner van vier Silwerskerm-toekennings: beste aktrise vir June van Merch, beste vroulike byspeler vir Trudy van Rooy, beste kostuums vir Ayesha Khatieb en beste kinematografie vir Ebrahim Hajee.
Quanita sê dit was doelbewus dat sy die film gemaak het met ’n gevarieërde gehoor in gedagte – van mense met binnekennis van die Moslem-geloof en gebruike, tot diegene wat nie veel daarvan weet nie.
“Ons almal sterf eendag. Die maniere waarop ons afgestorwenes begrawe verskil, maar die kern daarvan is universeel. Dit gaan daaroor om die lewe wat verby is te gedenk. Die helfte van my familie is Christene, dus was die speelfilm ook ’n manier om te sê dat die onderskeie gemeenskappe verskillende benaderings het, en dat daar iets moois in al daardie benaderings is. Partykeer is daar iets pragtigs, spesiaal en belangrik daaraan vir ander mense, al lyk die kulturele gebruike soms vir jou vreemd of snaaks. So, ek hoop mense kry iets daarvan in die rolprent.”
Om Hier.Na op BoxOffice te huur, volg net die volgende instruksies:
- Gaan na die BoxOffice op jou DStv Explora of DStv Explora Ultra. Jou DStv moet aan die internet gekoppel wees.
- Druk OK.
- Vind die fliek wat jy wil huur.
- Druk weer OK en kies Rent Now.
- Aanvaar die voorwaardes.
- Kies DStv Account as die betalingsmetode.
- Wag ’n paar sekondes vir BoxOffice om die transaksie te prosesseer.
- Geniet die fliek!