web uni tv guide
web uni tv guide

Hannes Aan Huis

144LeefstylPG13 L

Hannes aan Huis keer terug – met nuwe stories, oop harte en ’n paar geliefde gunstelinge

Nuus
08 Julie 2025
Wat gebeur wanneer jy jou voordeur oopmaak vir ’n bekende – en hulle hulle hart vir jóú oopmaak? Dis presies wat kykers weer vanaand op kykNET (DStv kanaal 144) kan verwag wanneer die 12de seisoen van Hannes aan Huis afskop om 21:00.
Hannes aan huis

Met sy kenmerkende warmte, humor en empatie nooi Hannes van Wyk vanjaar weer ’n verskeidenheid gaste oor sy drumpel – van bekendes en kunstenaars tot stille rolspelers agter die skerms van Suid-Afrika se kultuur en geskiedenis. Sommige geselsies is splinternuut, terwyl ander só geliefd was dat hulle op versoek van kykers terugkeer.

“Ek kan nie genoeg dankie sê vir ons lojale kykers nie,” sê Hannes. “Dis hulle ondersteuning en terugvoer wat hierdie program laat groei het tot wat dit vandag is.”

Hoogtepunte en gunstelinge

Die nuwe seisoen is ’n heerlike mengsel van splinternuwe onderhoude en ’n paar groot gunstelinge wat op kykersversoek weer uitgesaai word. Elke kuier dra sy eie gewig, maar daar is ’n paar wat regtig uitstaan:

  • Johan Badenhorst, die avontuurlustige gees van Voetspore, deel stories van die pad.
  • Giniel de Villiers, Dakar-wenner, gee ’n blik op sy reis na die top.
  • Die openhartige gesprek met sangpaar Francois en Elizabeth Fourie ontbloot die mens agter die musiek.
  • En dan is daar mense soos Pepe Marais, ’n kreatiewe reus in die advertensiewêreld, en Attie van Wyk van Big Concerts-faam – die man wat onder andere Lady Gaga en Elton John Suid-Afrika toe gebring het.



“Ons praat met mense wat ’n enorme impak het, maar wat dalk nie op elke voorblad verskyn nie – en dit maak dit só besonders.”

Verassings en vertroue

Soms is dit egter die onverwagte wat die grootste impak het – soos die onderhoud met Gigi die paaldanser. “Sy het niks teruggehou nie. Wat altyd vir my uitstaan, is hoe mense hulle huise én hulle harte oopmaak – en hoe hulle my genoeg vertrou om oor diep dinge te praat.”

Dié vertroue is vir Hannes een van die grootste geskenke van die reeks. “Elke keer as iemand my hul storie toevertrou, raak dit my.”

Agter die skerms

Een van die mooiste komplimente wat Hannes gereeld ná ’n opname hoor, is: “Ek het vergeet daar is kameras.” Dít is die geheim van die reeks se sukses – die vermoë om ware gesprekke te voer sonder ophef.

’n Reeks van groei – vir Hannes ook

Dis nie net die gaste wat in die kollig is nie. Deur die jare het Hannes self ook gegroei – as aanbieder én as mens.

“Ek glo jy leer met elke onderhoud. Ek doen baie navorsing, maar ek weet ook wanneer om net te luister. Ek kyk elke program, al haat ek dit nog steeds om myself op TV te sien – dis hoe jy groei.”

Wat onderskei Hannes aan Huis?

“Daar is baie wonderlike programme op kykNET, maar ons was nie vuil wasgoed nie,” sê hy laggend. “Ons fokus op eerlike, openhartige gesprekke. Selfs al is iemand al voorheen ondervra, probeer ek altyd ’n ander invalshoek vind.”

Die boodskap van hoop

Wat wil Hannes hê kykers moet uit hierdie seisoen vat?

“Dis belangrik om te weet daar is altyd hoop. Baie van die gaste het deur ongelooflike swaarkry gegaan – en tog staan hulle vandag sterk. Dit gee my hoop… en hopelik ook vir die kykers.”

Seisoen 12 van Hannes aan Huis word Dinsdagaande 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Dit is ook op DStv Stream beskikbaar.