Ou wonde word oopgekrap, verhoudings spat uitmekaar, en nuwe bedreigings duik op waar jy dit die minste verwag. Terwyl Christine haar oorlog teen die Louws verskerp en ander inwoners met liefde, lojaliteit en hul eie demone worstel, begin die grond onder Gemoedsdrif bewe en skuif.
Hier is vyf storielyne wat jou dié maand op die punt van jou stoel gaan hou:
Christine is op die oorlogspad – en die Louws voel dit
Christine se plan om Everlasting te saboteer raak al hoe meer intens en begin die plaas se fondamente skud. Sy manipuleer die mense rondom haar, dryf ’n wig tussen JP en Jasmine in en plaas JP in ’n onmoontlike posisie wat hom woedend laat. Hazel probeer om dinge beter te maak, maar beland self in die spervuur. Christine se taktieke raak al hoe meer aggressief – van ’n valse brief tot regsdreigemente. Sy sal duidelik nie ophou voordat sy teruggekry het wat sy glo aan haar behoort nie.
Fabian soek ’n plek om in te pas – maar Gloria vertrou dit nie
Ná ’n mislukte eerste dag op Everlasting, begin Fabian uiteindelik sy voete vind, maar sy verlede haal hom in. Ruan se konfrontasie ruk hom, en Gloria bly op haar hoede en bevraagteken sy bedoelings. Sy vriendskap met Junior laat Jasmine bekommerd, en Fabian se ware motiewe is vaag. Al is sommige inwoners bereid om hom ’n tweede kans te gee, bly Gloria skepties.
Dominee Wayne en Erica se band verdiep – maar nie sonder hindernisse nie
Te midde van konflik in die gemeente en ’n ongeluk met die kerk se eiendom, ontstaan ’n dieper verbintenis tussen Wayne en Erica. Hulle deel stil oomblikke en geestelike insigte, en uiteindelik is daar selfs ’n afspraak tussen die twee, maar dit is nie alles maanskyn en rose nie. Wayne worstel met sy plek in die gemeenskap, Erica kry skokkende nuus, en albei sukkel om hul gevoelens en hul verantwoordelikhede te balanseer. Terwyl gerugte begin versprei en die druk toeneem, moet hulle besluit wat hulle werklik vir mekaar beteken.
’n Nuwe begin vir Manny en Tillie
Manny bevind homself op ’n kruispad, met lewensveranderende besluite wat dalk die koers van sy toekoms in Gemoedsdrif gaan bepaal. Terwyl hy begin om sy lewe weer op te bou, raak Tillie ’n onverwagse bron van ondersteuning – én spanning. Hul verhouding word getoets in openbare konfrontasies en gemeenskapsvergaderings, maar ’n verrassende eerste afspraak wys ’n sagter kant van albei. Terwyl Tillie en Manny nader aan mekaar beweeg, moet hulle die gewig van hul verlede en die verwagtinge van ander navigeer.
- Skakel Maandae tot Donderdae om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) in om te kyk hoe dinge in Skemergrond warm raak. Dié reeks is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.