Leon Schuster, Vinette Ebrahim en Marida Swanepoel word by die Silwerskermtoekennings vereer vir hulle lewensbydraes tot die vermaakwêreld in Suid-Afrika. Leon en Vinette word Saterdagaand 23 Augustus by die Silwerskermtoekennings vir Film en Televisie in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (Kiks) gehuldig, en Marida ontvang daardie oggend haar eerbewys by die toekenningsgeleentheid in The Bay Hotel.
Leon Schuster
Leon Schuster is ’n filmmaker, komediant, akteur en sanger, maar bowenal het hy ’n reusebydrae tot nasiebou gelewer.
Leon, gebore en getoë in Bloemfontein, het ’n BA-graad aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf, waar hy vir die Shimlas rugby gespeel het. Ná ’n draai as onderwyser het sy loopbaan in alle erns in 1975 by die SAUK begin.
Die radioprogram Die Vrypostige Mikrofoon en flieks soos You Must Be Joking en Oh Shucks, It’s Schuster het van Leon ’n huishoudelike naam gemaak. Hy het ook vir een van die grootste Suid-Afrikaanse treffers gesorg toe hy in 1995 sy liedjie “Hie’ kommie Bokke” uitgereik het.
Leon se narratiewe rolprente, soos There’s a Zulu on My Stoep en Mr Bones, het plaaslike loketrekords verpletter, met Suid-Afrikaners van alle agtergronde wat aanklank gevind het by sy komiese blik op die land. There’s a Zulu on My Stoep het ook gewildheid in Amerika geniet, maar uit sy 18 vollengterolprente is dit Mama Jack wat vir Leon die naaste aan die hart lê.
“As iemand wat vreugde vir Suid-Afrikaners gebring het,” sê Leon is hoe hy onthou wil word.
Vinette Ebrahim
Vinette was op hoërskool toe sy by The Space-teater in Kaapstad betrokke geraak het. Rolle in legendariese produksies soos Fiela se kind, Boesman and Lena en Buckingham Palace, District Six het gevolg. In 2000 het Vinette haar verskyning as Charmaine Meintjies (née Beukes) in die sepie 7de Laan gemaak en kort daarna volksbesit geword. Intussen het sy steeds in die teater gewerk aan produksies soos Miss Africa South, Vaselinetjie en My naam is Ellen Pakkies.
Sedert sy die Laan en sy mense gegroet het, het sy nuwe hoogtes bereik met rolle in Binnelanders, Generations, Diepe waters en Kelders van geheime, asook in TV-reekse soos Lioness, Koek, Legacy en die minireeks Evita in Excelsior. Sy het ook uitgeblink in vollengterolprente soos Barakat, Swirl en God Is African. Daarbenewens is Vinette ’n trotse mentor vir jonger spelers, skrywers en regisseurs.
“Die hoogtepunt van my loopbaan is die mense saam met wie ek gewerk het,” sê Vinette. “Elke projek waaraan ek gewerk het, was spesiaal, maar die mense ... my medespelers, die crew, die produksiespan.”
Hoe voel sy oor hierdie toekenning?
“Een-en-vyftig jaar in die bedryf is ’n leeftyd – vir my altans. Hoe voel ek oor die toekenning? Geïnspireerd om nog te gee. Dis nog lank nie verby nie!”
Marida Swanepoel
Wanneer daar oor die geskiedenis van Afrikaanse TV gepraat word, is daar een naam wat altyd opkom: Marida Swanepoel.
Marida se wortels lê in die Kaap waar sy, onder meer, ’n meestersgraad in Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch behaal het. Sy het by die SAUK in Johannesburg as omroeper aangesluit, en ná haar huwelik met Nic Swanepoel en die geboorte van hulle drie kinders, Elsje, Jan Adriaan en Franci, het sy radioverhale begin skryf. Later het sy by SAUK-TV se oorklankingsafdeling ingeval.
Marida behaal ’n tweede meestersgraad, hierdie keer in linguistiek, en met die begin van kykNET in November 1999, word haar kundigheid uitstekend as kanaalhoof ingespan. Onder haar leiding word oorspronklike inhoud vir die kanaal geskep, onder meer kykNET se eerste eie dramareeks.
“Ek is diep geraak deur die erkenning,” sê Marida. “Ons het hard gewerk in die beginjare, foute gemaak, dae en nagte deur gesloof, baie gelag, oplossings gekry en diep vriendskapsbande gesmee.
“Die 17 jaar by kykNET sal ek vir niks verruil nie. Die kultuur binne M-Net was warm en ondersteunend. Almal het mekaar geken. Elke afdeling in die maatskappy het gehelp waar hulle kon en wou hê jy moet slaag. Dit was deel van kykNET se sukses. Een groot liefdevolle familie. Wat meer kan ’n mens vra?”
Sedert haar aftrede is sy steeds ’n gereelde feesganger, uitstekende gespreksgenoot en raadgewer. Die vermaakwêreld in Suid-Afrika sou veel armer sonder Marida gewees het.
- Die kykNET Silwerskermtoekennings vir Film en Televisie vind Saterdag 23 Augustus om 19:00 in die Kiks plaas en sal Sondag 24 Augustus om 19:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai word.