web uni tv guide
web uni tv guide

Skemergrond

145Telenovela13

Dominee Wayne krap dinge om in 'Skemergrond'

Nuus
17 Julie 2025
Denver Vraagom is ’n TV-legende met rolle in reekse soos '7de Laan', 'Arendsvlei', 'Swartwater' en 'Erfsondes'. Vanaf 17 Julie 2025 is hy te sien in 'Skemergrond' as die nuwe dominee, Wayne Ackerman.
Skemergrond

Jy speel die rol van Dominee Wayne. Sonder om te veel weg te gee, vertel meer van die karakter?

Wayne Ackerman is die tipe dominee wat teen stereotipes skop. Hy is onortodoks en ’n op en wakker en funky dominee. Hy gebruik humor en sy kreatiwiteit om vir almal in die kerk dinge meer toeganklik te maak. Sang is, volgens hom, die beste manier om die boodskap oor te dra – maak nie saak hoe vals jy sing nie. In stede van lang, formele preke, sal hy liewer in die tuin of langs die rivier gaan stap om ’n boodskap oor te dra. Hy raak gou geheg aan die gemeente en die gemeenskap.

Is Dominee Wayne ’n man wat dinge gaan deurmekaar krap?

Daar is een tante wat hy verskriklik omkrap, maar daai tante sal later besef sy hou nogal van die manier hoe die nuwe dominee dinge doen. Hy plant regte plante binne die kerk. Hoekom dan nou nie? Dinge moet opgekikker word. Ieder en elk moet die kerk geniet. Laat die gebou lewe.

Wat geniet jy die meeste daarvan om ’n predikant te speel?

Vreemd genoeg, as kind wou ek altyd ’n predikant word siende dat ek ’n altaardienaar was, maar die drama en sport het my lewe oorgeneem. Wat dit so lekker maak is dat dit ’n nuwe uitdaging is. Ek kan ook net soveel skollies en deurmekaar karakters speel! Dominee Wayne bring die ander kant van Denver uit. Die kant wat vir hom belangrik is. Sy sagte kant. Die kant wat hy herontdek het sedert sy nugter reis begin het. [Denver het sewe jaar gelede ophou alkohol gebruik.]

Jy kom met ’n klomp ondervinding in sepies – voor en agter die kamera. Wat maak Skemergrond vir jou anders?

Met Skemergrond kan ek bietjie meer speel en ontdek. Sepies is ’n worsmasjien. Skemergrond word met twee kameras geskiet, maar in sepies werk ons met drie kameras. Ons het dan ook ’n beeldmenger wat al ons regisseurs se skote soos ’n DJ meng en dadelik van een kamera na ’n ander kan gaan. Met Skemergrond word daar elke keer hoeke verander en die ligte word geskuif. So, ek het kans om na ander spel-opsies te kyk met die verskillende skote.

Jy en jou vrou, Ingrid Paulus, en die kinders, Skye en Hannah, het afgetrek Kaap toe. Wat geniet julle die meeste van julle lewe hier?

Ek is terug waar alles vir my 32 jaar gelede begin het. Ingrid kry kans om ander moontlikhede te ontdek. Sy het onlangs radiowerk gedoen met, onder meer, ’n drama en regie vir boekvoorlesings. Sy doen ook weer oorklanking tussendeur. Die kinders geniet natuurlik die strand, want ons bly vyf minute se loop van die see af hier in Saldanhabaai. Ons is nader aan my familie, wat ek vir 20 jaar nie regtig kon sien nie.

Bo en behalwe Skemergrond, waarmee hou jy jouself nog besig?

Nie veel nie, want dominee Wayne hou my nogal besig. Ek het wel weer begin skryf, al is dit teen ’n slakkepas. Ek kry wel genoeg tyd saam met die kinders op my afdae.

Rugby is een van jou groot liefdes. As jy nou posisies met enige speler in die Springbokspan kon ruil, wie sou dit wees en hoekom?

Cheslin Kolbe. Ek het as standard 5-leerling (deesdae graad 7) vleuel vir Diaz Primêr in Mosselbaai gespeel, maar na ’n groot tackle en baie bloed het ek besluit ballet is ’n bietjie veiliger. Vandag droom ek steeds van daai droomdrie wat ek sou druk. 

Watter droom het jy nog as regisseur? En speler?

As regisseur sal ek graag twee produksies die lig wil laat sien – ’n dramareeks en ’n fliek. As speler sal ek graag Hamlet wil vertolk.

As jy terugkyk op jou lewe, wat is vir jou die grootste hoogtepunt?

Die grootste hoogtepunt(e) is my kinders en my vrou wat, ten spyte van alles, nog altyd aan my sy is. Dan natuurlik daai lewensreddende oomblik toe ek sewe jaar gelede drank opgegee het.

Wat lê in die toekoms?

Om as ’n eenheid saam met my familie te groei en hopelik ook meer sielvoedende rolle en nog meer magic voor én agter die kamera en op die verhoog.

Dominee Wayne dop dinge omtrent om in Skemergrond, en hy vind dalk ook liefde…

  • Skakel elke Maandag tot Donderdag om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) in om te kyk hoe Dominee Wayne die gemeenskap op hul tone hou. Skemergrond is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.