Met arms vol hondekos, komberse, lekkernye en ’n geldskenking het die Diepe Waters-span hul dag spandeer saam met die honde en toegewyde personeel van die skuiling in Fourways. Die besoek was nie net ’n daad van mededeelsaamheid nie, maar ook ’n oomblik van bewustelike teenwoordigheid – iets wat aktrise Marijke Coetser (Rene) pragtig verwoord:
“Tyd is iets wat ons nie kan beheer nie, maar dis ook een van die waardevolste skatte wat ons het. Om bewustelik te besluit hoe jy jou tyd spandeer, het ’n groot impak op jou geluk. Ons is bly ons kon Nelson Mandela-dag ons tyd by Paws R Us spandeer het.”
Sandi Schultz (Zelda) het ook ’n sagte plek in haar hart vir diereskuilings:
“Reddingsorganisasies doen sulke ondankbare maar ongelooflik belangrike werk met verlate diere. Dit is te danke aan ’n organisasie soos Paws R Us dat ek my hondeseun, Harley, in my lewe het – daarom ondersteun ek hulle met graagte.”
Natasja Jacobs (Bianca) beklemtoon hoe belangrik dit is om die stem van diere te wees:
“It takes nothing away from a human to be kind to animals. Diere het nie 'n stem nie. Ons moet hul stem wees. Al wat hulle gee is liefde, en hulle verdien dieselfde. Deernis, geduld en hope liefde maak die wêreld se verskil.”
Werner Coetser (Jacques) deel ook sy indrukke van die dag:
“Ons raak so vas gevang in ons daaglikse roetines dat ons vergeet wat daar buite aangaan en dat daar werklik nood is. Soms moet ons net ’n oomblik vat en tyd en energie gee aan dié wat dit werklik nodig het.”
PAWS R US (SA), wat tans na sowat 85 honde omsien, is ’n geregistreerde nie-winsgewende organisasie wat sonder enige staatsfondse funksioneer. Hulle is ten volle afhanklik van donasies en die ondersteuning van diereliefhebbers soos dié van Diepe Waters.
“Ons is so dankbaar dat die Diepe Waters-span vandag tyd kom maak het vir ons honde. Dit is ’n ware getuienis van vriendelikheid-in-aksie en het ongelooflik baie beteken vir ons almal,” sê Charmain Studer, een van die direkteure van PAWS R US (SA).
Die besoek het nie net lig en liefde gebring aan die honde nie – dit het ook bewys dat ware verandering begin by empatie en optrede. Diepe Waters se betrokkenheid is ’n inspirasie vir ons almal om, in Madiba se gees, elke dag met betekenis te leef.