web uni tv guide
Die nuusmakers S1 Slim BB Maintenance
web uni tv guide

Die Nuusmakers

144DramaPG13

Die nuusmakers: Is Adri se instink reg?

Nuus
10 Junie 2025
Die nuusmakers se loodsepisode het die fondasie gelê vir ’n dramareeks gelaai met koorsige spanning, emosie en naelbyt-aksie.
Die nuusmakers

Aan die einde van die eerste episode het die nuusleser Adri Joubert (Rolanda Marais) op lug besef haar man, Dawid (Anrich Herbst), is in ’n mislukte kaping doodgeskiet. Maar was dit ’n kaping of skuil iets anders agter Dawid se moord?



In die nuuskantoor het kykers in die eerste drie episodes Adri se kollegas ontmoet. Johan Diedericks (Brendon Daniels) is die hoof van nuus en ’n jarelange kollega en vriend van Adri. Karla Viljoen (Roeline Daneel) is ’n joernalis wat lewe vir haar werk, en Kyle Munro (Arno Greeff) is ’n ambisieuse jong man en Adri se medenuusleser.

Melanie Palmer (Lea Vivier) is ’n sakekonsultant wat namens die eienaar van die kanaal, Renate van der Riet (Susanne Beyers), moet uitvind of die kanaal nog finansieel die moeite werd is. Melanie krap dinge van die begin af deurmekaar. Sy wys sy is nie ’n katjie wat sonder handskoene aangepak moet word nie, wanneer sy in episode 3 vir Luke le Roux (Neels van Jaarsveld) summier afdank.



Simone Bosman (Hannah Borthwick) is Adri se getroue assistent wat haar pilverslawing probeer wegsteek, en Nhlanhla Langa (Lesley Maasdorp) is die slimkop wat alles van sosiale media en tegnologie weet.

Die sportaanbieder Tersia de Klerk (Daneel van der Walt) het vir Adri as nuusleser ingestaan terwyl sy oor die dood van Dawid probeer kom het, maar Tersia het klaaglik as nuusleser misluk. Die enigste een wat werklik in haar glo, is die weerman Charl Coetzee (Chris van Rensburg). 



Adri en Dawid het twee kinders, Tina (Christia Visser) en Daniel (Heinrich Wentzel). Tina woon oorsee saam met haar verloofde, Emil de Wet (Erasmus Esterhuizen). Daniel het gehoop hy gaan ’n rugbyspeler soos sy pa word, maar dinge het nie so uitgewerk nie. Adri se pa, Lourens Scheepers (Chris van Niekerk), woon ook by hulle.

Dawid se broer, Marcus (Laudo Liebenberg), en sy vrou, Inga (Tanja Franzsen), probeer Adri ondersteun, maar dit is duidelik dat Marcus se oortuigings hemelsbreed van Adri s’n verskil en dat hy alles en almal in ’n demokratiese Suid-Afrika verdink en wantrou. Marcus en Inga se dogter, Zené (Kristen Raath), het kommunikasiekunde studeer en wil graag in Adri se voetspore volg. Nog iemand wat Adri ondersteun, is haar vriendin Magdaleen (Ira Blanckenberg) en die grimeerkunstenaar Erica van Eyk (Martelize Kolver).



Adri sal alles doen om uit te vind of Dawid se moord beplan was of nie. Die een persoon wat sy verdink, is Leo Jansen (Melt Sieberhagen). In episode 1 het hy by die TV-stasie opgedaag en was opdringerig teenoor Adri. Dawid het hom gekeer en daar het ’n bakleiery ontstaan. Maar is dit Leo wat vir Dawid se dood verantwoordelik was of moet Adri wyer soek na moontlike verdagtes?

In episode 4 sweer Luke wraak en stel hy ’n skadelike video oor Adri se huwelik vry. Dit ontstel haar geweldig, en sy roep Nhlanhla in om haar met die ondersoek na Dawid se dood te help.

Die nuusmakers is op Dinsdag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.