In die eerste episode is die fondasie gelê. ’n Ryk wildboer, Brand Lourens (Louis Minnaar), se kleindogter, Karla de Villiers (Lienke Vermeulen), is in matriek en is deur ’n traumatiese ervaring toe sy die ooggetuie van ’n skietvoorval geword het. Haar pa, Willem (Neels Clasen), word van moord aangekla, en Karla is een van die sleutelgetuies in die verhoor. Op die eerste dag van die verhoor word Frank Hermans (Laudo Liebenberg) as getuie geroep, maar een van die feite wat aan die lig kom, is dat hy ’n verhouding met Lynette (Angelique Pretorius) gehad het. Lynette is Brand se oudste dogter, Willem se vrou en Karla se ma.
Lynette se suster, Sofia (Melissa Willering), maak haar opwagting en is duidelik ’n katjie wat nie sonder handskoene aangepak moet word nie. Die vermoorde man, Markus Mouton, se pa, Abraham (Deon Coetzee), en sy weduwee, Monique (Blyde Smit), wil geregtigheid vir sy dood hê. Karla se skoolmaats, haar kêrel, Robbie (Liam Bosman), en vriendin Anita (Dané van der Waal), is dalk nie wie hulle voorgee om te wees nie. Die jong IT-spesialis Rowan Peterson (Nahum Huges) werk vir Brand, en hy en Karla het ’n geheime verhouding aangeknoop.
In die tweede episode verdwyn Karla en kan sy nie getuienis lewer nie. Dit is ná sy aan Rowan erken het dat sy nie met ’n eerlike hart kan getuig nie en hy erken het dat hy self ’n geheim verberg.
Episode 2 los ’n hele paar vrae wat beantwoord moet word:
- Hoekom was Robbie die oggend so sigbaar ontsteld toe hy gestort het? Wat het die vorige aand tussen hom en Karla gebeur?
- Wie het vir Brand die boodskap gestuur toe hy in die hof was oor die spore wat toegevee is? En wie is die ontvoerders wat vir hom die boodskap aan die einde van episode 2 oor die losprys vir Karla gestuur het?
- Hoekom het Rowan die top verbrand wat hy in die verlate plaashuis gevind het waar hy en Karla die vorige aand was? En wie se kledingstuk is dit? Is dit toevallig dat Karla vir Rowan gewys het om spore uit te vee, en kan hy dalk die veiligheidskameras manipuleer?
- Hoekom het Anita, wat duidelik verlief is op Robbie, Karla se rekenaar gevat?
- Is daar moontlik wrywing tussen Robbie se ma, Alta (Marijke Coetser), en Lynette? Hoekom is Alta so kortaf met Lynette?
- Wie het die sekuriteitsopnames uitgevee?
In episode 3 is die wildsveiling om die draai. Brand besluit om sake in eie hande te neem, en Anita spin ’n web vir Robbie. Die Moutons word by die Lourense se krisis betrek.
Spoorloos is Dinsdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook op DStv Stream beskikbaar.