Gehore kan hulle gereed maak vir ’n filmiese meesterstuk wat die hartsnare sal roer. Die langverwagte film, gebaseer op Zelda Bezuidenhout se geliefde roman met dieselfde titel, is geregisseer deur Pieter Grobbelaar.
Retta Blom is ’n besonder oplettende vrou - sommige sou sê sy is obsessief-kompulsief. Dis juis hierdie eienskap wat een doodgewone oggend die hele kaartehuis van haar perfekte lewe laat tuimel. Want sien, Retta het eintlik alles: die perfekte man, ’n pragtige huis, ’n seun, genoeg geld, vriendinne … maar daardie oggend sien sy iets raak wat die meeste ander mense sou miskyk. En so begin ’n pynlike proses terug na die waarheid.
Die dekonstruksie van Retta Blom is die verhaal van ’n perfeksionistiese vrou wat altyd alles reg doen en vir almal bontstaan. Maar selfs vir perfeksioniste, en dalk juis vir hulle, kom die lewe nie met waarborge nie. Retta gaan op ’n reis - sielkundig, maar ook letterlik - wanneer sy met haar maltrap-vriendin Leigh die pad vat Kaap toe.
Sy ontdek ontstellende waarhede oor Tobias, haar eggenoot van baie jare. Maar sy ontdek ook belangrike lewenswaarhede en veral waarhede oor haarself. Deur te “dekonstrueer” en amper alles te verloor, kry sy die een ding terug wat ’n mens nodig het om gelukkig te wees: sy besef weer wie sy werklik is, en wat haar regtig gelukkig maak.
“Ons is opgewonde om hierdie treffende en emosionele storie na die groot skerm te bring," sê regisseur Pieter Grobbelaar. Die film is deurspek met humor, en bied die lief en leed van verhoudings aan op ’n manier waarmee gewone mense kan vereenselwig.
"Ek wou die grense 'n bietjie verskuif en die stereotipe siening oor Afrikaners uitdaag. Die film handel oor hoe ons lewens soms verbrokkel en hoe ons dit dan van voor af moet opbou. ’n "Grootword"-film gaan gewoonlik oor tieners en hul eerste seksuele ontwaking. Hierdie film het as tema die herontwaking van die seksuele wese op ’n veel ryper ouderdom. Dis 'n baie pynliker proses, maar dit is steeds ’n “grootwordstorie”. Die waarheid is soms wreed en maak seer. Naaktheid/gestrooptheid, seks en seksualiteit het my as visuele storieverteller in hierdie film geïnteresseer."
Die film is vervaardig deur The Ergo Company en Henrietta Gryffenberg het die boek vir film verwerk. Dit spog met ’n talentvolle rolverdeling, waaronder die veelkbekroonde Antoinette Louw as Retta, Hilda Cronje, Francois Coertze, Christopher van der Westhuizen, Carmen Maarman, Natalia De Rocha, Faith Beukes, David Chevers, Danica Davis, Christelle Van Den Bergh, James Borthwick, Kevin Smith, Reem Koussa, Moshine Mametja, Isabella Mostert and Andre Odendaal.
Soos die ikoniese speelfilm, Thelma and Louise, is Die dekonstruksie van Retta Blom ook ’n viering van vriendskap. Dit word as’t ware ’n padkaart wat die karakters – en eintlik ook die kykers – help om van die verveling van die alledaagse te ontsnap. Binne die eerste paar minute van die film, word die fliekgehoor geprikkel deur ’n visuele raaisel – ’n tas in ’n kattebak – en van daardie oomblik af sal kykers vasgenael wees.
“Wanneer Die Dekonstruksie van Retta Blom op 23 Mei in fliekteaters begin draai, nooi ons Suid-Afrika uit om saam met ons deel te word van Retta se reis,” sê vervaardiger, Dumi Gumbi, wat al vyf keer ’n gesogte SAFTA-toekenning ingepalm het.
Die Dekonstruksie van Retta Blom sal by die volgende teaters vertoon word.
Ster Kinekor’s teaters:
- Namibië
Maerua Mall in Windhoek
- Gauteng
Rosebank Cinema Nouveau
Cresta
Mooirivier
Vaal Mall
Brooklyn
Cradlestone
Irene
- Wes-Kaap
Garden Route
Somerset
Tygervallei
- Mpumalanga
Ilanga
- Vrystaat
Bloemfontein Mimosa Mall
Nu Metro teaters:
Durban - Ballito Junction
Kaapstad - Canal Walk
Johannesburg - Clearwater Mall
Bloemfontein - Loch Logan
Pretoria - Menlyn Park
Pretoria - Woodlands
Durban - The Pavilion
Worcester
Avalon:
Kaapstad - Grand West
Road House Cinema:
Hermanus