web uni tv guide
web uni tv guide

Die Byl

144Misdaad16 VL

Die Byl groet ná ses seisoene

Nuus
17 Januarie 2025
Die Byl, wat Dinsdagaand 14 Januarie om 20:00 op kykNET afgeskop het, is die dramareeks met die meeste seisoene in kykNET se geskiedenis.
Die byl

“Mens weet nooit terwyl jy met die werk aan ’n produksie bloed en trane stort of dit sag by die kykers gaan val nie,” sê Waldemar Schultz, die talentvolle akteur wat van die heel eerste episode van die heel eerste seisoen in die skoene van Die Byl gestaan het. Nou, ná ses seisoene, is dit tyd om te groet. “Dit was ’n baie spesiale ervaring. Ons het nie toe geweet ons, die spelers, sluit by ’n familie aan wat tien jaar lank saam gaan werk nie. Die mense en gevoel van kameraderie sal altyd by my bly.”

Die Byl, wat Dinsdagaand 14 Januarie om 20:00 op kykNET afgeskop het, is die dramareeks met die meeste seisoene in kykNET se geskiedenis. In die sesde seisoen bly reeksmoordenaars ­’n uitdaging vir Byl en sy span, en dié keer is daar ’n genadelose moordenaar wat vasberade is om hulle hel op aarde te gee. Dít terwyl Byl en sy span ook met hul eie demone worstel.



“Die feit dat ek vir die eerste keer ’n produksie kon aanpak waarin ek werklik saam met die regisseurs, vervaardigers, skrywers en medespelers kon werk en bou aan die karakters en die vertel van die storie, was vir my ongelooflik bevredigend, kreatief en natuurlik ook soms angswekkend,” sê Waldemar. “Jy werk altyd teen tyd (én begroting), en dit was vir my ontsettend belangrik om die stories geloofwaardig en met integriteit te vertel. Soms was dit ’n gespartel om al ’n mens se eendjies in ’n ry te hou, maar daar was altyd fantastiese samewerking en ondersteuning van die hele span.”



Wat was sy persoonlike hoogtepunte oor die ses seisoene?

“Elke seisoen het op een of ander manier ’n gedaanteverwisseling ondergaan en nuwe vrae, raaisels en uitdagings gebring,” sê hy. “Daar was so baie uitsonderlike herinneringe, oomblikke, verhoudings en magic spells – te veel om te noem. Soms het ek op stel gestap vir ’n toneel waar ek net daardie een keer teenoor die ander speler speel, en dit het soms ’n onverwagse kreatiewe keuse en chemical cocktail gebring, maar dan lóóp daardie toneel. Baie van daardie ervarings was vir my hoogtepunte. Maar dan ook: om met die spanne, spelers, die mense agter die kameras die kreatiewe journey van hierdie ses seisoene te kon deel was deur en deur ’n hoogtepunt van my loopbaan.”

Waldemar sê die sesde seisoen is nie ligte musiek nie. “Dis donker, kompleks en hopelik beide angswekkend en boeiend. Oor storielyn(e) wil ek niks sê nie, maar ek hoop en glo daar gaan menige vingernaels voor die kassie geknaag word. Van my gunstelingreaksies op sosiale media is as mense sê: ‘Ek kon nie meer kyk nie, maar ek kon nie ophou kyk nie!’ So, haak in by ’n geliefde se arm en loer tussen die vingers deur.”



Seisoene 5 en 6 is vervaardig sonder Leon Kruger (hoofskrywer) en Herman Binge (hoofvervaardiger), wat beide in 2021 oorlede is.

“Beide seisoen 5 en 6 is ons huldeblyk aan hulle,” se Waldemar. “Ook aan ons Dok Fritz, Eric Nobbs, wat in 2022 oorlede is. Maar ek dink dis ’n goeie tyd om klaar te maak. Ek is darem al 10 jaar ouer as toe ons begin het, en arme ou Van der Bijl is al deur só baie geweld, moord en doodslag in sy lang loopbaan. Dalk sal hy bly wees vir ’n bietjie vrede.”

Wat sal sy afskeidswoorde aan Byl wees?

“Ek is nie so seker ek wil koebaai sê nie. Dalk hoop ek nog hard vir ’n speelfilm,” sê Waldemar.

Die span

Byl
(Waldemar Schultz) is die hoof van die eenheid. Hy word ondersteun deur die ondersoekers Juan (Marvin Lee Beukes), Lena (Lika Berning), die regskenner Nicki (Milan Murray) en Jo (Amalia Uys), ’n voormalige sluipmoordenaar wat deesdae as wapenkenner in die eenheid werk.



Kaptein William Miller (Tyrone Keogh) is ’n profileerder, en dr. Anton Fourie (Marcel van Heerden) is ’n patoloog wat hulle in seisoen vyf by die span aangesluit het.



Die byspelers

Eliaan Slee
(Melissa Willering) is die geniale uitkoms van haar pa en ma se eksperimentering met genetika. Op die oog af is sy klein en tengerig, effens teruggetrokke en veilig in die wêreld van letterkunde, maar sy is hiperintelligent en vatbaar vir ideologie.

Dr. Elize Opperman (Roeline Daneel) is ’n gierige glyjakkals wat in die naam van wetenskap en vooruitgang eintlik net geld in haar eie sak wil steek.

Daniël Weyers (Sherman Pharo) is ’n oud-polisieman wat uit die polisiemag geskors is nadat hy dwelms probeer steel het om te herverkoop. Hy het hierna ’n privaatspeurder geword en is al vir die laaste vyf jaar Dr. Opperman se handlanger.

Ander deurlopende karakters is die skerminkel Benjamin Vlok (Danny Ross), die webontwikkelaar Stephen (Sean van Noordwyk) en kapt. Tarina Spies (Ronel Stander), wat haar oog op ’n plek in Byl se span het. Ander bekendes wat in die nuwe reeks te sien is, sluit in Melanie du Bois, Hannes van Wyk, Pascual Wakefield, Antoinette Louw, Rika Sennett, Geon Nel, Cedwyn Joel, Carel Nel en die legendariese akteurspaar Johan en Lida Botha.

Die misdade

Daar is een storielyn wat deur seisoen 6 loop, met een reeksmoordenaar wat gesoek word, maar dié seisoen van tien episodes het ook vyf ander sake wat oor twee episodes elk ondersoek word.



Agter die skerms

Die reeks is geskryf deur Elmarie Botha, Berdene Burger en Lorraine Burger. Die regisseurs is Berdene Burger, Liezl Spies en Nina Swart. Die kinematograaf is Jay Marais, en die hoof van klank is Juan Kindo. Mary-Sue Morris is hoof van garderobe, en die produksieontwerper is Stefan Benade. Sulanie Saayman was vir die grimering verantwoordelik, wat ook al die wonde en spesiale effekte ingesluit het. Die reeks word deur Elmarie Botha vir Wolflight Films vervaardig.

Die Byl se sesde seisoen het op 14 Januarie om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) begin en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.