Die kykNET-telenovela, Diepe Waters, kry binnekort ‘n nuwe gesig wat beslis gemoedere sal laat roer. David Louw, wat geen bekendstelling nodig het nie, maak sy opwagting later in Desember as die komplekse Fourie Bester.
Fourie, ‘n sakeman wat tot onlangs in Dubai gewerk het, keer terug na Suid-Afrika om tyd saam met sy seun, Juvan, deur te bring en die pa-seun-verhouding wat hy altyd begeer het, te bou. “Hy het nie werk-lewe-balans nie en is nie iemand wat maklik emosioneel raak nie. Alhoewel hy goedhartig is teenoor sy seun, is hy heeltemal afwesig wanneer dit kom by sy eie gevoelens,” verduidelik David.
Die drama rondom Fourie kom egter nie van homself af nie, maar van sy familie se verlede. “Sy pa, Nelius, het in die verlede dinge gedoen wat nou skeiding en hartseer in die familie veroorsaak,” sê David. Hierdie onthullings dreig om die Besters verder uitmekaar te dryf.
Fourie se geskiedenis – ‘n gebroke hart ná ‘n mislukte huwelik en gevoelens van woede en verraad wat uit die verlede na vore kom – voeg ‘n nuwe dimensie tot Diepe Waters. Sy verhaal sal kykers vasvang namate hy probeer om familie-konflik en persoonlike uitdagings te hanteer.
David sê hy is opgewonde om weer deel te wees van die kykNET-familie: “Dis fantasties! Ek was vir baie jare deel van kykNET en om nou weer saam met al die ou (en nuwe) gesigte te wees, is heerlik.”
Maak gereed om saam met Fourie die diepste waters van sy verlede en hede te verken – waar geheime wag om onthul te word en nuwe verhoudings verrassende draaie neem.
Diepe Waters is te sien op kykNET (DStv-kanaal 144) Maandae tot Donderdae om 18:30. Dis ook beskikbaar op DStv Stream en Catch Up.