Dané deel die mooi, die uitdagings en die toekoms wat sy met oop arms tegemoet gaan.
’n Tyd van spesiale oomblikke
“Wat vir my die lekkerste was op stel, was die oggende voor ons begin skiet het,” deel Dané. “Almal het eers ’n koppie koffie saam geniet en gesels. Dit was veral merkwaardig hoe vriendelik die cast en crew was – selfs al was dit 05h30 op ’n yskoue wintersoggend!”
Sy deel met humor een van die spesiale herinneringe wat haar altyd sal bybly: “Melani van die Housewives of PTA het een dag saam ons swemmers tonele kom skiet. Ons was opgedollie met haar Tammy Tailor-naels, en my karakter (Charity) se aangeplakte lang naels het diamante gehad. Net voor my toneel verloor ek een nael in die toilet! Ek het almal op stel laat wag terwyl ek met ’n toilet plunger op soek was. Gelukkig het ek dit uiteindelik in my broekspyp gevind.”
Nog ’n besondere herinnering vir Dané was die dae toe haar karakter op straat moes bly. “Charity het slegs uit een tassie geleef en uit ’n asblik geëet. Dit was moeilik, maar ongelooflik bevredigend om daardie rou emosie en menslikheid oor te dra.”
En dan was daar die glansgeleenthede: “As gevolg van Diepe Waters het ek geleenthede soos MC wees by Dorp van die Jaar 2023, ’n Bravo!-onderhoud, en ’n rugbykuier saam met die cast en crew beleef. Ek moet sê, Reandi het my selfs geleer om Black Label te drink!”
Maar dit was nie altyd maklik nie. Een van die grootste uitdagings was om swembadtonele in die winter en tydens beurtkrag te skiet. "Jy voel letterlik hoe jou tone vries!"
Afgeskryf, maar nooit vergete nie
“Dit voel eerlikwaar soos ’n break-up,” sê Dané oor haar afskeid van die reeks. “Ek gaan die mense die meeste mis – hulle het my lewe ingekleur. Werner Coetser (Jacques), Justin Strydom (Gys), en Stiaan Bruwer (Henry) se grappies het beslis gehelp om die koue oggende en lang ure op stel draaglik te maak.”
Uit haar tyd as Charity neem sy kosbare lewenslesse saam. “’n Groot les wat ek geleer het, is om nie net te luister om te antwoord nie, maar werklik te luister om te verstaan.” Hierdie wysheid sal haar beslis in die toekoms help.
Nuwe horisonne
Alhoewel Dané haar mense gaan mis, lê daar opwindende nuwe projekte en avonture vir haar voor. Sy sien uit om haar kêrel, Leon, in Swede te besoek na ’n jaar van langafstand. Dané help ook om haar suster se troue in België te reël.
Op die werkfront is sy besig met oorklanking, skryf aan ’n kortfilm, en het sy onlangs haar eie Acting-werkswinkel, Life to Lens Acting, begin. “Ek wil ander help om hulself as kunstenaars te ontdek en hul passie te volg.”
’n Laatste groet – vir nou
Dané se tyd as Charity mag verby wees, maar haar nalatenskap op Diepe Waters en in die harte van kykers sal lank bly voortleef. Kykers kan uitsien na wat hierdie veelsydige en gedrewe aktrise verder gaan bereik.
Diepe Waters word Maandae tot Donderdae 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Dit is op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.