web uni tv guide
Op my eish S4 Slim BB

Crouch, bind, set, engage! Sterstut Ruan Smith ruil sy rugbystewels in vir ’n soektog na liefde in 'Op my eish!'

Nuus
29 Junie 2025
Ruan Smith, voormalige professionele rugbyspeler en een helfte van die bekende Smith-tweeling, is die nuwe alleenloper in kykNET se gewilde realiteitsreeks 'Op my eish!'
Op My Eish!

Ruan, wat verlede jaar amptelik uit die professionele rugbywêreld getree het, sien sy deelname aan die program as ’n kans om liefde via ’n ander roete te vind. “My vorige verhoudings het nie uitgewerk nie, en die geleentheid is perfek om uit my gemaksone te kom en ’n alternatiewe manier te probeer.”

Sy rugbyloopbaan het hom na verskeie lande geneem. In 2006 het Ruan saam met sy familie na Australië verhuis. Hy en JP, sy tweelingbroer, het in 2008 na Suid-Afrika teruggekeer om hul matriekjaar by Paarl Gimnasium te voltooi. Ná sy matriekjaar het hy by WP aangesluit en daarna vir spanne soos die Brumbies (2012–2016), Toyota Verblitz in Japan (2015–2017), die Queensland Reds (2018–2020) en die Melbourne Rebels (2021–2022) uitgedraf. In 2022 het hy na Suid-Afrika teruggekeer en tot 2024 vir die Lions in Johannesburg gespeel.

Vandag woon hy in Alberton, waar hy saam met JP hul rugbykliniek, Eight7, bestuur. Deur hierdie projek identifiseer en ontwikkel hulle jong rugbytalent, met ’n spesiale fokus op plaaslike en behoeftige gemeenskappe.

Ruan, wat al voorheen getroud was en ’n pa van twee is, spits hom deesdae toe op familie, geloof en die bou van betekenisvolle verhoudings. Ná alles wat die lewe al na sy kant toe gegooi het, is hy gereed om liefde weer ’n kans te gee.

Wanneer hy nie met rugby of die gemeenskap besig is nie, geniet hy eenvoudige dinge soos braai, vakansies by die see, gholf speel en oefen. Sy ideale lewensmaat beskryf hy as lojaal, eerlik, nie veeleisend nie en iemand wat nie net gefokus is op aardse dinge nie. Ambisie is vir hom ’n belangrike eienskap.

Met sy tipiese humorsin lag hy wanneer hy vroue aanmoedig om in te skryf: “Maak net seker julle ken die verskil tussen my en JP. En sê net ek is die mooi broer – al dink julle dalk nie so nie. Wat het julle om te verloor?”

Interessante feite oor Ruan:

  • Hy het eers rugby begin speel toe hy 13 jaar oud was. Voor dit het hy sokker gespeel.
  • Sy ma het hom altyd "Roos" genoem.
  • Hy eet letterlik alles, behalwe afval.
  •  Ruan is ’n huismens en hou nie daarvan om heeltyd op die pad te wees nie.

Inskrywings vir die nuwe seisoen van Op my eish! is tans oop. Dames wat gereed is vir ’n kans op liefde, kan inskryf by kyknet.tv.