web uni tv guide
Diepe waters S3 Slim BB
web uni tv guide

Diepe Waters

144Telenovela13

Chumani Pan vertolk rol van prins in kykNET se Diepe Waters

Nuus
29 April 2025
kykNET is trots om die terugkeer van die bekroonde akteur Chumani Pan na die kanaal aan te kondig. Hy sluit aan by die rolverdeling van Diepe Waters in die rol van Siseko Bhonga. Kykers sal hom onthou vir sy vertolking van Lux in die kykNET-drama Projek Dina.
Diepe waters

Siseko Bhonga is die seun van Koning Mzukisi Bhonga – n Xhosa-prins wat in tradisie grootgemaak is, maar deur die moderne wêreld gevorm is. Al is hy selfversekerd, intelligent en empaties, is Siseko huiwerig om die lot wat sy koninklike bloed van hom vereis, ten volle te aanvaar. Soos hy worstel met die verwagtinge van sy erfporsie en die lewe wat hy werklik begeer, beloof sy reis om harte te roer, vrae te laat ontstaan en dalk die toekoms van die Bhonga-nalatenskap vir altyd te verander.

Chumani deel sy opgewondenheid oor die rol:

“Ek was baie opgewonde toe ek die rol gekry het. Ek was lanklaas in n kykNET-reeks, en ek het die kanaal en sy kykers baie gemis. Ek het nog nooit die rol van n prins vertolk nie, so hierdie rol voel vars en spesiaal vir my. Siseko is n respekvolle en nederige man – iemand met sterk waardes en ’n diep hart. Dis ’n eer om in sy skoene te stap.”

As hy sy karakter in drie woorde moet beskryf, sê Chumani: “omgee, liefdevol en saggeaard.” Hy vertel ook dat sy voorbereiding vir die rol navorsing oor koninklike pligte en protokol ingesluit het – veral binne die Xhosa-monargie – n wêreld waarmee hy reeds ietwat vertroud is.

Maar bo en behalwe tradisie en plig, bring Siseko ook n ligte, speelse sjarme na die skerm.

“Hy het ook n komiese kant,” sê hy. “Dit was lekker om dit te verken, veral omdat ek nie gereeld rolle kry waar ek snaaks kan wees nie.”

Chumani beskryf die Diepe Waters-rolverdeling en -span as “n werklik talentvolle en vriendelike groep”, met spesiale lof vir aktrise Tracey-Lee Oliver (Pam), met wie hy dadelik gekliek het sedert hul eerste oudisie saam.

Uiteindelik hoop hy dat kykers iets van liefde en bestemming uit Siseko se storie sal neem:

“Siseko se storie herinner ons daaraan dat liefde jou kan vind wanneer jy dit die minste verwag – op die mees onverwagse plekke en tye.”

Diepe Waters word op kykNET (DStv kanaal 144) uitgesaai van Maandae tot Donderdae om 18:30, en is ook beskikbaar op DStv Stream.