web uni tv guide
Diepe waters S3 Slim BB
web uni tv guide

Diepe Waters

144Telenovela13

Charlotte Butler maak haar Diepe Waters-debuut as Aunty G

Nuus
22 Augustus 2025
’n Nuwe karakter maak haar verskyning op kykNET (DStv-kanaal 144) se Diepe Waters, en sy gaan beslis golwe maak.
Diepe waters

Die charismatiese Charlotte Butler sluit by die rolverdeling aan as Henry se tannie, Ginevra “Aunty G” Rossi, ’n sterk, luidrugtige en liefdevolle Italiaanse mama met ’n persoonlikheid so groot soos haar goue ringe en armbande.

Aunty G is in haar sestigs en kom reguit uit Italië, waar sy saam met haar man hul vier kinders grootgemaak het nadat hulle in haar dertigs terug is Italië toe. Nou is sy ’n weduwee, met haar kinders oor die wêreld heen versprei, en keer sy terug na Suid-Afrika om ’n nuwe rol te vervul – as oppasser vir Henry en Lettie.

Vir Aunty G is familie alles. Henry is haar Vita Mia (haar lewe), en sy respekteer sy Vita Mia, Lettie. Met haar groot hart en eindelose energie wil sy net help en die las verlig. Maar soms word haar groter-as-lewe teenwoordigheid verkeerd verstaan asof sy die leisels wil oorneem – en dit skep sowel spanning as humor.

Butler sê sy is opgewonde om deel van die Diepe Waters-familie te wees:

“Ek is verheug om weer saam met Penguin Films te werk en veral om saam met sulke gerekende regisseurs, akteurs en tegniese span te wees. Dit was heerlik om weer saam met Gert van Niekerk te werk – ons het ’n lang geskiedenis.”

Om in karakter te kom, het ’n paar prettige uitdagings ingehou:

“Wel, om die Italiaanse aksent in Afrikaans reg te kry was ’n uitdaging – EN om ’n paar Italiaanse woorde te leer. En toe moes ek natuurlik baie pasta en pizza eet – dit was verpligtend!”

Kykers kan uitsien na Aunty G se groot hart, haar liefde vir kos, en haar soms oorweldigende manier van help. Butler voeg by:

“Ek hoop kykers gaan haar net so liefhê soos ek, en dalk help dit ons om te besef dat ons eerder na iemand se bedoelings moet kyk en nie sommer dadelik dink hulle is irriterend nie.”

Wanneer sy Aunty G beskryf, sê sy verder:

“Luidrugtig en warm, maar beslis nie stylvol nie! Sy is ’n bietjie van ’n enigma vir die familie – en daar gaan baie kos wees in haar storielyne. Maar in haar kern sien Aunty G altyd die beste in mense. Sy is lief vir hulle. Nie ’n slegte eienskap om na te streef nie.”

Buite Diepe Waters is Butler se loopbaan net so ryk en uiteenlopend:

“Teater is my passie – dit is ook ’n duur stokperdjie! Ek het ’n opleidingsmaatskappy saam met twee wonderlike aktrises, Judy Ditchfield en Jocelyn Broderick, en ’n teatergeselskap saam met die ongelooflik talentvolle Bianca Amato, Kensiwe Tshabalala en Paige Bonnin. Ek show call korporatiewe konferensies, doen verhoogbestuur, rolprente en stemwerk. Ek voel ongelooflik bevoorreg om al meer as 40 jaar deel van hierdie wonderlike bedryf te wees!”

Charlotte Butler se toetrede merk ’n opwindende nuwe hoofstuk vir die reeks, en bring sowel hartroerende familieoomblikke as vurige Italiaanse bekoring na die skerm.

Moet nie Aunty G se aankoms vanaand in Diepe Waters misloop nie – kyk op kykNET (DStv-kanaal 144) en stroom dit op DStv Stream.