kyknet channel logo

'Boet se Goet': ’n Sielvolle huldeblyk aan ’n uitsonderlike kunstenaar

Nuus
05 Junie 2025
Boet van der Hoven was enig in sy soort. ’n Uitblinker op skool, ’n geliefde onderwyser en later ’n pottebakker, skrywer en kunstenaar bekend vir sy kleurvolle skilderye. Sy lewenspad het in die Klein Karoo begin en weer daar geëindig. Tussenin was ’n vol en komplekse lewe.
Boet se Goet

In die dokumentêr Boet se goet, word die kyker op ’n reis geneem deur Boet se harde buite- en binnewêreld. Daar is insae in die stryd van ’n intense kunstenaarsgees met die lewe en sy omgewing, sy ontvlugting in pottebakkery, sy woorde in digkuns en briewe, sy skilderye van Karoo-landskappe en die mense wat daar woon.

Die dokumentêr is gemaak deur meesterregisseur Koos Roets, en die bekende digter en radioman Daniel Hugo is die verteller-aanbieder. 

“Die inspirasie om Boet se storie te vertel kom van die ongekunstelde en direkte wyse waarop Boet met deernis en empatie sy Karoo-onderwerpe benader en in woord en beeld kon weergee. Hoe hy ook sonder skroom sy siel in sy woordkuns kon blootlê.

Kykers kan uitsien na die ontvouing van ’n verhaal van ’n Karoo-kunstenaar se persoonlike stryd en onophoudelike soeke na klaarheid en ankers, die blootlegging van sy siel. Ook die verhaal van sy noue konneksie en vereenselwiging met die wel en wee van tipiese plattelandse Karoo-mense wat hy so uniek en raak in woord en beeld kon vasvang,” vertel Koos.

Van Boet se geliefdes deel hulle herinneringe aan hom, en David Kramer vertel watter rol Boet in sy ikoniese rooi velskoene gespeel het. Anton Goosen is ook te hoor met die liedjie “Saterdagaand”, waarvan die lirieke deur hom en Boet geskryf is. 
Kenners en vriende vertel van sy beïnvloeding deur bekende kunstenaars soos Pranas Domsaitis sowel as kontak, inspirasie en vriendskap met die skilder Gregoire Boonzaier en pottebakker Hyme Rabinowitz. 

Deur Roets se lens gee die dokumentêr ook ’n intieme blik op ’n eenkant gemeenskap vasgevang in die alledaagse sikliese gang van swaarkry, arbeid, kortstondige vreugdes, pyn en verlies, lewe en dood. 

  • Boet se goet word op 29 Junie 2025 om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en sal ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar wees.