Wanneer Die brug se spelers hul bouwerk afgehandel het, is dit die boere se beurt om ’n brug na moontlike liefde in Boer soek ’n vrou oor te steek. Die sewentiende seisoen van dié gewilde maatsoekreeks begin op Donderdag 7 Augustus op kykNET (DStv-kanaal 144).
Vanjaar se oes van deelnemers se ouderdomme wissel tussen 26 en 56, en die boere verteenwoordig ses provinsies, met die Vrystaat wat die voortou met drie hubare boere neem.
Soos voorheen sal Boer soek ’n vrou, wat sedert 2007 ’n móét op die Suid-Afrikaanse televisiekalender geword het, grootliks fokus op die vyf boere wat die meeste inskrywings ontvang het.
Reandi Grey klim vir die eerste keer agter die stuur van die Boer soek ’n vrou-Hilux-bakkie in, en sy sê daar is talle verrassings wat op kykers wag in ’n vars seisoen.
“Daar is nie net tien nuwe boere nie, maar ook ’n splinternuwe regisseur en ’n nuwe aanbieder,” verduidelik Reandi.
“Al die boere wat ingeskryf het, is ook mense wat ek self naby aan my gaan wil hou vir die res van my lewe.
“Hulle is besonderse sout-van-die-aarde-mense wat liefde verdien – en ek voel geëerd om deel daarvan te kon wees,” sê sy.
Volgens haar is dit ongelooflik om sien hoe die boere verander van die begin tot die einde, en wat hulle ervaar.
“Dit is ’n rol wat ek toewens vir enigiemand in hul lewe, want om deel te kan wees van ’n liefdesverhaal, of dit vir iemand anders of vir jouself is, is baie spesiaal en nodig.”
2025 se boere is:
1. Nicolaas (37), skaap- en saaiboer van Bredasdorp, Wes-Kaap
2. Rudi H (56), boerbokboer van Windsorton, Noord-Kaap
3. Lourie (26), beesboer van Vryburg, Noordwes
4. Rudi (47), toerisme en wildboer van Beestekraal, Noordwes
5. Evert (38), makadamia-, sitrus- en wildboer van Tshipise, Limpopo
6. Willie (26), makadamia- en wildboer van Badplaas, Mpumalanga
7. Reinier (29), saai-, bees- en skaapboer van Frankfort, Vrystaat
8. Ruan (30), skaap-, bees- en saaiboer van Tweespruit, Vrystaat
9. Christof (38), turksvy- en soutboer van Petrusburg, Vrystaat
10. Pieter (29), skaapboer van Richmond, Noord-Kaap
Maak solank 'n nota in jou kalender vir 7 Augustus 2025. Bly op hoogte met hoe die boere se soektogte na liefde vorder deur saam te kuier op Facebook, X, TikTok en Instagram deur die hutsmerk, #BoerSoeknVrou te gebruik.