Haar karakter, Bernadette du Plessis, is allesbehalwe alledaags: ’n impulsiewe, energieke en vrygeestige vrou met ’n verlede vol liefdes, verlange en onverwagse draaie.
“Bernadette is ’n impulsiewe, sensuele en vrydenkende vrou,” sê Siobhan. “Sy het die grootste deel van haar lewe daaraan gewy om fantasieë en mans na te jaag in haar soeke na die sprokieslewe waarna sy smag.” Gebore en getoë in Gemoedsdrif, keer Bernadette terug huis toe ná jare se avonture, liefdes en teleurstellings oorsee. Op 49 bevind sy haar in ’n doodloopstraat en klou sy vas aan die hoop om haar hoërskoolliefde, Manny, terug te wen.
“Sy is jou klassieke ontsnappingskunstenaar en ontwrigter,” voeg Siobhan by. “Sy sukkel met verantwoordelikheid, hou van partytjies en is lief vir esoteriese dinge soos astrologie en joga. Sy trek uitdagend aan, flirteer graag en gebruik haar sjarme om mense te bekoor – altyd op soek na aandag, liefde en geborgenheid. Maar agter die uiterlike sprankel sit ’n diep onsekerheid en ’n groot vrees vir veroudering en die verlies van haar aantrekkingskrag.”
Haar voorbereiding vir die rol was uitdagend. “Ek was ’n maand voor die verfilming in ’n afgeleë deel van Indië,” verduidelik sy. “Ek moes soms ’n berg uitklim of op ’n hotel se dak gaan sit om genoeg WiFi te kry om Skemergrond-episodes te kyk en meer oor die wêreld en karakters uit te vind.” Sy sê die skermtoets saam met die regisseur en stilistiese spanne het haar gehelp om Bernadette se voorkoms en houding verder te verfyn.
Op die vraag oor wat die lekkerste deel van haar karakter was om te speel, antwoord sy: “Ek het haar vrypostige, flirterige kant baie geniet – dikwels so onvanpas dat dit wenkbroue laat lig het.”
Haar grootste uitdaging? “Om te sorg dat sy, ten spyte van haar larger-than-life-persoonlikheid, nie soos ’n karikatuur voorkom nie. Ek wou hê sy moes lewensgetrou voel – geloofwaardig en eg,” sê sy. “Ek het gedink die stomende tonele met Manny sou dalk ongemaklik wees, maar dit was glad nie. Dirk Stoltz is ’n absolute heer, en ons het baie gelag.”
Al is daar baie verskille tussen Siobhan en haar karakter, is daar tog raakpunte. “Ek is ’n introvert, dra selde grimering, vergeet gereeld om my hare te borsel, en voel die gemaklikste in ’n sweetpak en tekkies. My voete is baie meer op die aarde as hare. Maar ons het albei in plattelandse dorpe grootgeword met groot drome van avontuur. Ek het al baie van die eksotiese plekke besoek waarvan sy praat.”
En hou sy van Bernadette? “Ja en nee. Ek hou baie van haar avontuurlike, kreatiewe sy, maar nie van haar gemene kant nie.”
Siobhan, wie se verbintenis met Penguin Films terugstrek na haar eerste hoofrol in die TV-reeks S.O.S.(2000–2004), sê dit was ’n maklike ja om deel van Skemergrond te word. “Die akteurs en span is warm, professioneel en ongelooflik talentvol. Hulle neem die werk ernstig op, maar nie hulself nie, en dít is my gunstelingtipe stel.”
Siobhan wou baie graag ’n wildbewaringsveearts word, maar sy sê op een of ander manier het sy in dié beroep beland. “My eerste professionele rol was in ’n Reza de Wet-toneelstuk by die Pretoria Staatsteater met legendariese akteurs by wie ek so baie geleer het. Ek het voortgegaan om saam met ongelooflike kunstenaars oor die jare te werk in ’n reeks gas-,ondersteunings- en hoofrolle. My gunstelingkarakters in onlangse plaaslike produksies sluit in Heike (AKA Jill), Christelle se nuuskierige en ongelukkige Duitse buurvrou in Koek, skugter en gebroke Helen in Die Byl en Parkinson-pasiënt Beth in Projek Dina. My gunstelingkarakters in onlangse internasionale projekte sluit in Victoria, ’n skietlustige sersant in die Amerikaanse reeks Revelation Road, en die Skotse Dr. Buchanan in Recipes for Love and Murder.
Siobhan het ook ervaring agter die kameras. In 2022 het sy opgetree as regisseur en medevervaardiger van ’n jeug-natuurreeks vir Disney en National Geographic. Sy is tans besig met die ontwikkeling van nog twee projekte met ’n natuurfokus.
Wat lê voor? “Ek het pas ’n rol aanvaar as ’n Ierse non in ’n Skotse perioderolprent wat in 1912 afspeel, en ek spaar vir ’n foto-ekspedisie na Bhutan in 2026.”
- Kykers moet elke Maandag tot Donderdag om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) inskakel om te sien watter manewales Bernadette gaan aanvang. Skemergrond is ook beskikbaar op DStv Stream en Catch Up.