web uni tv guide
Diepe waters S3 Slim BB
web uni tv guide

Diepe Waters

144Telenovela13 L

Arno is terug in Diepe waters – en hy’s ’n man met ’n plan

Nuus
16 Julie 2025
Kykers van kykNET se gewilde telenovela Diepe waters kan hulle regmaak vir ’n opwindende wending – Jean Henry keer op Woensdag 16 Julie terug in die rol van Arno, en hy bring ’n nuwe energie, groei en vasberadenheid saam met hom.
Diepe waters

Toe Jean Henry die oproep ontvang het met die uitnodiging om weer as Arno terug te keer, was sy reaksie een van opgewonde afwagting. “Die tydsberekening was goed, want ek het ekstra kapasiteit gehad op daai oomblik om ordentlik aandag aan die rol te gee.”

Vir hom was die breek van die skerms af egter nie net ’n rustyd nie, maar ook ’n kans vir herbesinning. “ ’n Breek was goed en gesond – mens kom terug met ’n nuwe invalshoek en die opwinding is weer daar,” sê hy.

En kykers sal gou besef: Arno is nie dieselfde man wat die dorp destyds verlaat het nie. “Hy’t emosioneel baie gegroei,” vertel Jean Henry. “Hy het meer perspektief gekry oor die lewe en ’n duidelike rigting waarnatoe hy wil beweeg – persoonlik en in sy werk.”

Maar dit is nie net kykers wat verras gaan wees nie. Karla is heeltemal oorbluf wanneer Arno onverwags weer in haar wêreld opdaag. Sy het hom lanklaas gesien, en tog is haar reaksie opreg positief. Wat beteken dit vir hulle geskiedenis, en dalk vir hulle toekoms? Gaan ou gevoelens weer opvlam, of het dinge te veel verander?

Sonder om te veel te verklap, laat Jean Henry val dat Arno hierdie keer met vaste voornemens opdaag. “Hy weet presies wat hy wil hê,” sê hy met ’n glimlag. En daardie vasberadenheid gaan vir seker dinge op die dorp laat gons. 

Hou Diepe waters dop. Arno se terugkeer is een van daardie draaie in die storie wat jy nie wil misloop nie.